Een dood ná vroue op plaas oorval word

Foto: Verskaf deur SAPD

Twee verdagtes is in hegtenis geneem en een doodgeskiet ná ʼn groep rowers Dinsdag in die vroeë oggendure op ʼn plaas in die Alexandria-gebied in die Oos-Kaap toegeslaan het.

Kapt. André Beetge, woordvoerder van die polisie, sê twee vroue, onderskeidelik 72 en 76 jaar oud, is tussen 02:30 en 04:30 in hul huis op die plaas deur drie mans oorval wat met messe gewapen was. “Daar word vermoed hulle het toegang tot die huis verkry deur ʼn venster te breek terwyl die vroue geslaap het,” sê Beetge.

Die aanvallers het verskeie items, waaronder ʼn .38-rewolwer, uit die huis geroof en met die vroue se wit Isuzu-bakkie op die vlug geslaan.

“Omstreeks 05:50 is die voertuig deur lede van die polisie se blitspatrollie op die R335 naby Motherwell opgemerk. ʼn Kort jaagtog het ontstaan wat in Siqwanestraat tot ʼn einde gekom het toe die bestuurder van die voertuig byna teen die muur van ʼn huis vasgejaag het,” sê Beetge.

Hy sê die bestuurder het uit die bakkie gespring en ʼn skietgeveg het tussen die verdagtes en die polisie ontstaan. Die bestuurder is doodgeskiet terwyl die ander twee verdagtes op die plek in hegtenis geneem is.

Riaan Scheepers (Foto: Verskaf)

“’n Speelgoedvuurwapen is naby die bestuurder [se liggaam] gevind,” sê Beetge. Hy het bevestig die oorledene is 35 jaar oud, maar sê sy naam kan nie bekendgemaak word totdat sy naasbestaandes van sy dood in kennis gestel is nie.

Die ander twee verdagtes, onderskeidelik 37 en 50 jaar oud, sal Donderdag in die Alexandria-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof en besit van ʼn gesteelde voertuig en gesteelde goedere. Nog aanklagte kan later bygevoeg word.

Dit is nie die eerste keer dat die Alexandria-gemeenskap deur plaasaanvallers geteiken word nie. Die wrede aanval in November 2017 op Riaan Scheepers, ʼn geliefde beesboer van dié distrik, het skokgolwe deur die land gestuur. Scheepers is op ʼn Saterdagoggend buite sy huis oorval en so erg aangerand dat hy vier skedelkrake en talle steekwonde aan sy kop opgedoen het.

Hy is onmiddellik ná die aanval in ʼn geïnduseerde mediese koma geplaas, maar selfs nadat die verdowing gestaak is, het hy nooit weer sy bewussyn herwin nie. Hy het op 19 Desember 2017 in die hospitaal gesterf.

Bulelani Bafo Zozi (21) en Siphamandla Petse (24) is in November verlede jaar lewenslange tronkstraf vir die moord op Scheepers opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gert ·

Mooi so herstel wet en orde . Dankie aan die polisie en beskerm jou eie lewe

christa ·

goed so, wel gedaan. Die ander twee moes ook in die stof gebyt het. Dalk moet ons Zim se manne kry om wet en order te kom herstel.

Michelle ·

Dankie vir die diens SAP jy kan jouself hoe beskerm as hul wil inkom sal hulle inkom ek vertrou die twee weerlose vroue sal die tralmal verwerk en watter sinnelose lewe is gevat van Mnr. Scheepers.

MW ·

My vraag. Hoekom bly 2 vroue op daardie ryp ouderdom alleen op ‘n plaas vandag? Dis mos vir moeilikheid soek. Dis hul goeie reg maar wat ‘n sagte teiken. Glo my almal weet hoe en waar jy bly en wat jy besit, jou veiligheid behoort eerste te kom. Die oortreders moet basies nie 500 meter naby jou plaashuis kom sonder dat jy van hul weet nie.

Ek hoor verlede week ‘n tuinwerker het tot sy werknemer se pos onderskep. Iemand het maande se oopgemaakte pos in haar “toolshed” ontdek nadat ‘n jarelange inwonende werker, wat vir haar vertel het hoe ryk haar buurman is, weg is? Toe sal sy verneem die bure in die rondte het net so ‘n probleem met hul pos

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.