ʼn Man is Sondag by ʼn hostel in Durban, KwaZulu-Natal dood ná ʼn beweerde bakleiery oor ʼn vrou.
“Die 35-jarige man is omstreeks 15:00 aangeval en het 14 messteke opgedoen,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy is op die toneel dood.”
Volgens Zwane was die slagoffer by die Jacobs-hostel toe die verdagte hom genader het. Die twee was glo in ʼn liefdesdriehoek gewikkel en het oor die vrou begin stry.
“Die verdagte het van die toneel gevlug ná die voorval,” het Zwane bygevoeg.
Ontstoke inwoners het die twee kamers, wat aan die verdagte en sy meisie behoort, aan die brand gesteek.
Volgens Zwane ondersoek die Brighton Beach-polisie ʼn saak van moord en brandstigting.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die gemeenskap ontmoedig om die reg in eie hande te neem.