ʼn Man is dood en ses ander mense beseer – drie van hulle kinders – nadat drie voertuie Vrydagaand op die R23 naby Heidelberg, Gauteng, in ʼn ongeluk betrokke was.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici van dié nooddiens was onder die talle nooddienswerkers wat omstreeks 21:00 op die toneel was.
“By nadere ondersoek het paramedici die liggaam van ʼn man, vermoedelik in sy 20’s, langs die pad gevind. Die man het reeds aan sy wonde beswyk en hy is op die toneel dood verklaar.”
Ses ander mense, drie van hulle kinders, is op die toneel ondersoek. “Een man het verskeie beserings opgedoen en was in ʼn kritieke toestand, terwyl die ander pasiënte ligte tot matige beserings opgedoen het.”
Die erg beseerde man is met ʼn lugambulans na ʼn private hospitaal gevlieg, terwyl die ander pasiënte met ambulanse vir verdere behandeling weggeneem is.
Een van die motors het glo in twee ander voertuie wat langs die pad stilgestaan het, ingeploeg, het Meiring gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Tragies