Een dood, talle vas ná taxidrywers losbrand

Altesame 15 mense is vir hul vermeende betrokkenheid by die geweld in hegtenis geneem. (Foto: SA Polisie)

ʼn Taxibestuurder is dood en 15 verdagtes agter tralies nadat taxigeweld Woensdag in Mbekweni in die Paarl uitgebreek het.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê inwoners het die polisie na die Mbekweni-treinstasie ontbied nadat skote glo daar tussen taxibestuurders geskiet is.

ʼn Nege-en-veertigjarige man van Mbekweni is in hegtenis geneem en ʼn 9 mm-Norinco-pistool en magasyn met nege koeëls is by hom gevind. ʼn Tweede inhegtenisneming het gevolg toe ʼn 62-jarige taxibestuurder van Khayelitsha aangekeer is.

“ʼn Ses-en-twintigjarige omstander is in die skietery gewond en ʼn 40-jarige taxibestuurder is dood in ʼn sinkhut aangetref,” het Van Wyk gesê.

Verskeie 9 mm- en R4-koeëls is op die toneel gevind.

Van Wyk sê die taxibestuurders het van die toneel gevlug, maar danksy die flinke optrede van lede van die polisie is hulle in Lady Grey-straat, by die Paarl-taxistaanplek, voorgekeer.

Altesame 13 verdagtes, tussen 24 en 48 jaar oud, en almal afkomstig van Khayelitsha, is in hegtenis geneem vir die besit van ammunisie en ʼn vuurwapen.

“Een van die mans wat in hegtenis geneem is, ʼn 48-jarige man, is gewond in ʼn taxi aangetref en is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem. Hy is onder polisiebewaking.”

Twee polisielede wat hulle na die toneel gehaas het om met die inhegtenisnemings te help, was onderweg in ʼn ongeluk betrokke en het geringe beserings opgedoen, sê Van Wyk. Albei is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.

Die verdagtes sal aangekla word van moord, poging tot moord, asook die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael 1 ·

Dieselfde taxis wat nou net sekere tye met net n beperkte hoeveelheid nood personeel mag vervoer…..
Lol

Pieter ·

R4 ammunisie. Duidelik wapen onwettig bekom vanuit die weermag. Daarby wil die ANC wetgehoorsame burgers ontwapen. Moenie met ‘n slap riem gevang word nie. Is jy baas of klaas?

koos10 ·

R4 Ammo is 5.54x45mm rondtes. Die selfde as .223 van jag gewere.
Ek sê nie dat jy verkeerd is nie Pieter (heel moontlik is jy reg, maar R4 en R5 (polisie) wapens gebruik dieselfde ammo), maar daar is geen R4 of R5 wapen op die toneel gekry nie.

Fedup ·

Ja. Nee. Ek sê niks meer nie. Kan net nie wen met die circus nie.

Pieter J ·

Waar kom hierdie taxidrywers aan ń R4? Dan wil die minister ons wettige wapens afvat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.