Een dood, tientalle beseer toe hyskraan op sleepwa losruk

Dit het ure geduur om sommige van die passasiers te bevry. (Foto: Rescue Care)

Een mens is dood en minstens 30 ander beseer toe ʼn 80 ton-hyskraan op ʼn sleepwa Vrydag kort voor middernag losgekom en langs Himalayasweg in Durban afgerol het en teen twee taxi’s gebots het.

“Paramedici van Rescue Care het absolute chaos op die toneel aangetref. ʼn Abnormale vragmotor met ʼn sleepwa en ʼn 80 ton-hyskraan daarop het op een of ander manier losgekom van die perd en met die pad afgerol,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê.

“Die sleepwa het naby die kruising met Simlaweg teen twee taxi’s en nog ʼn voertuig gebots. Daar was talle beserings en verskeie mense is in die wrakke vasgekeer.”

Paramedici het nou saam met die Durbanse brandweer en verskeie insleepdienste gewerk om vasgekeerde pasiënte so gou moontlik te bevry.

Insleepkenners het swaarvraghyskrane gebruik om die hyskraan mee op te lig en die brandweerlede het lewenskake en ander hidrouliese toerusting gebruik om die pasiënte los te sny, het Jamieson gesê.

“Dit was ʼn enorme taak en die laaste pasiënt is eers nagenoeg vyf uur later gered.”

Minstens 30 mense is op die toneel behandel en na verskeie Durbanse hospitale vir verdere mediese behandeling geneem.

Die pad was vanoggend kort voor 07:00 steeds gesluit.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jaco ·

As iemand sê hou toerusting in stand, volg daar beskuldigings van rassisme en dreigemente van afdanking. Ek het al geleer om by my werk eerder net my mond te hou.

Swannie ·

Abnormale vragte mag slegs tydens daglig vervoer word met rooi vlaggies weerskante van voertuig en `n bord wat aandui “Abnormale Vrag “

Potties ·

Mnr as die vrag te groot is en n verkeers beampte ry saam die vrag tot waar die vrag veilig is kan hulle enige tyd ry ……….

PJC ·

Jy is doodreg Swannie wat soek die ding op die pad daardie tyd van die dag. Die verantwoordelikes is nie net onbevoeg om die sleepwa reg aan te haak nie maar verontagsaam ook baie belangrike padreëls. Ek sal liewers nie wil weet wie en wat hul is nie.

Martien ·

Van die weinige kere dat die taxi,s nie die ooesaakvan die ongeluk was nie. Sterkte vir al die beseerdes.

Heksie ·

Dis hoekom ek altyd so versigtig is vir trokke met “los” goedere as vrag bv. pype en bakstene ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.