Een dood, tientalle leerders beseer op KZN-paaie

Die ongeluk in Clermont. Foto: Verskaf.

Een persoon is dood en sowat 44 ander, meestal skoolleerders, beseer in twee onverwante voorvalle Vrydagoggend in KwaZulu-Natal.

In albei gevalle is skoolkinders in minibus-taxi’s skool toe vervoer.

Kol. Thembeka Mbhele, woorvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die eerste voorval het omstreeks 07:00 in Mayfield in Sawoti plaasgevind toe die taxi waarin die kinders gereis het die pad verlaat het en in ʼn suikerrietplantasie langs die pad omgeslaan het.

Die taxi het op ʼn grondpad gery. “ ʼn 19-jarige is op die toneel dood, en 24 leerders en die bestuurder is na die hospitaal vervoer vir mediese behandeling.”

Die ongeluk in Mayfield. Foto: Twitter via @KZN_EMS.

KwaZulu-Natalse nooddienste het op Twitter laat hoor dat die bussie glo hoër- en laerskoolleerders vervoer het.

Volgens Mbhele sal die bestuurder aangekla word van strafbare manslag.

In die ander onverwante voorval is 20 mense, onder wie 18 kinders, op pad skool toe beseer toe twee taxi’s en twee voertuie op Khululekaweg in Clermont gebots het.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê hul paramedici het net na 08:00 by die toneel opgedaag.

“Verskeie skoolkinders het seergekry en sommiges is na ʼn nabygeleë plaaslike kliniek geneem.”

Volgens hom het die beserings van gering tot ernstig gewissel.

Die beseerdes is na onderskeie hospitale gehaas vir mediese behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.