Een dood toe ligte vliegtuig naby Koster neerstort

Argieffoto bloot ter illustrasie.

Een persoon is dood nadat ’n ligte vliegtuig Donderdagoggend op ’n plaas naby Koster in die Noordwes neergestort het.

Dié tragedie volg kort nadat die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) sy kommer uitgespreek het oor die 14 vliegongelukke wat verlede maand in die land aangemeld is.

In die jongste voorval het die slagoffer onherkenbaar verband, sê kapt. Aafje Botma, woordvoerder van die polisie.

Die vliegtuig het omstreeks 10:00 naby ’n dam op die plaas neergestort. Plaaswerkers het die boer ontbied waarna hulle op die vliegtuigwrak afgekom het.

Die slagoffer se identiteit is in die stadium nog onbekend.

Die toneel word tans deur die polisie beveilig vir ’n ondersoek deur die BLO.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, het aan Maroela Media gesê die owerheid se afdeling wat ongelukke en voorvalle ondersoek, het reeds ’n ondersoek van stapel gestuur.

Die BLO het intussen gesê hy is bekommerd oor die onlangse toename in vliegongelukke. Altesaam 14 voorvalle, waarvan vier noodlottig, het gedurende Januarie die lewens van agt mense geëis.

Die laaste keer dat Suid-Afrika só ’n groot aantal vliegongelukke gehad het, was in Oktober 2008 toe 20 vliegongelukke in een enkele maand aangemeld is. Dié maand staan sedertdien bekend as Swart Oktober, sê Poppy Khoza, direkteur van die BLO.

“Hoewel die ongeluksyfer tans nie op hierdie vlak is nie, is dit steeds kommerwekkend dat ons soveel ongelukke in net een maand [Januarie] gehad het. Ons kan nie ’n herhaling van Oktober 2008 se statistieke hê nie. Daarom ​​waarsku ons alle operateurs om die streng nakoming van lugvaartveiligheid en veiligheidsregulasies te verseker.”

Khoza sê ondersoeke na vorige vliegongelukke dui op enkele algemene oorsake, waaronder probleme met bemanning, vliegtuigbedrywighede en meganiese of enjinprobleme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

re:
‘….dui op enkele algemene oorsake, waaronder probleme met bemanning, vliegtuigbedrywighede en meganiese of enjinprobleme.’

Dìt sê hoegenaamd nìks. In vliegtaal is dit so kort as ‘pilot error, yes or no.’ oftewel ‘vlieëniersfout, ja of nee.’

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.