Een persoon is dood ná ʼn ligte vliegtuig vermoedelik in ʼn bergrant vasgevlieg het in die Baakensvallei-natuurreservaat in Port Elizabeth.
Die vliegtuig het aan die brand geslaan.
Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het die sterfte bevestig en gesê die persoon se naasbestaandes moet nog in kennis gestel word.
Naidu het gesê dit was ʼn Fish Eagle-vliegtuig wat in die ongeluk betrokke was en dat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) die ondersoek verder sal behartig.
Die BLO het intussen gesê ʼn span ongeluks- en voorvalondersoekers is na Port Elizabeth gestuur om die ondersoek van stapel te stuur.
Volgens hulle is daar nog nie veel inligting oor die voorval bekend nie, maar hulle het wel gesê dat die ongeluk kort ná die vliegtuig van Port Elizabeth Internasionale Lughawe af opgestyg het plaasgevind het.
Kabelo Ledwaba, woordvoerder van BLO, het gesê die vliegtuig het ná die impak aan die brand geslaan.
ʼn Verslaggewer van African News Agency het gesien hoe die klein vliegtuig omstreeks 14:30 in die Baakensvallei sirkel. Kort daarna is harde knalgeluide gehoor en swart rook kon net onder die rant van die vallei gesien word.
Nooddienste was binne minute op die toneel.