Motoriste op die besige N1-snelweg in Kaapstad se noordelike stadsgebiede moes Woensdagmiddag vreesbevange toekyk hoe een persoon helder oordag in ʼn skietery in die verbyry doodgeskiet en nog twee gewond is.
“Ons ondersoek nog die omstandighede van die skietvoorval omstreeks 13:45 op die Plattekloof-afrit,” het kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, Donderdagoggend by navraag aan Maroela Media gesê.
Die oorledene was ʼn 28-jarige man. ʼn Vrou (24) is in die skouer geskiet en nog ʼn man (26) in die maag, maar albei het die aanval oorleef.
Die skietery het ʼn ernstige verkeersopeenhoping op die nasionale pad veroorsaak nadat verkeersbeamptes die afrit gesluit het terwyl hulle die toneel ondersoek het.
Van Wyk sê die polisie ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord. “Polisiespeurders het die gebied gefynkam en volg alle moontlike leidrade op. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”
Volgens die webwerf Western Cape Gang Watch het die slagoffer se voertuig, ʼn wit Volkswagen Golf met ʼn Kaapse registrasienommer, sonder petrol op die afrit gaan staan. Daar was glo vier mense in die Golf.
Die bestuurder van ʼn Nissan Sentra met ʼn Bellville-registrasienommer het stilgehou om die Golf-bestuurder te help. Hy het twee mense by hom gehad.
“Terwyl hulle die Golf met ʼn sleeptou aan die Sentra vasgemaak het,” berig die webwerf, “het mense in ʼn silwer of grys Audi verbygery en op die mense geskiet. Ooggetuies beweer die Audi behoort aan ‘Donkie’ Jerome Booysen, vermeende leier van die Sexy Boys-bende.”
Van Wyk kon nie in dié stadium bewerings bevestig dat dit ’n bendeverwante sluipmoord is nie.
Enigeen met inligting oor die skietery word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 bel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
liewe ouers dis die wilde weste in SA
Nee!!! Wat de herrie gaan aan in ons land??????
Baie sterkte aan almal betrokke ??
Nee, dit gaan baie erger hier as ooit in die wilde Weste. Ten minste het beide kante destyds gewere gehad en dus gelyke kanse. Toe was cowboys en crooks nog ‘n gerespekteerde misdryf. Destyds was die goeie ou kroeg die enigste kragopwekker. Deesdae is doofmiddels, wat skrik vir niks en met sherrif-vergunning, ‘n plaaslike tuisbedryf.
Die Wes-Kaap word deur die bendes regeer, hulle maak en doen net wat hulle wil en polisie onbevoeg om enige-iets te doen.
Die land is tragies.