Een dood, twee vas ná gepeuter met Transnet-pypleidings

Levy Alex Sambo (Foto: Verskaf)

Twee verdagtes is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hulle na bewering met pypleidings van Transnet in die omgewing van Vrede in die Vrystaat gepeuter het.

Die liggaam van ’n vermoedelike derde verdagte is op die toneel gevind.

Kapt. Chris Singo, woordvoerder vir die Valke, sê twee veiligheidsbeamptes van Fidelity het Maandag pypleidings rondom Vrede gepatrolleer toe hulle ’n wit bakkie naby blokklep no. 59 opgemerk het.

Die insittendes van die bakkie het die twee veiligheidsbeamptes gewaar en weggery.

Die twee veiligheidsbeamptes het ondersoek ingestel en vasgestel dat ’n blokklep op die pypleiding met houtblokke oopgemaak is. Dit het ʼn petroleumlekkasie tot gevolg gehad.

’n Onbekende, lewelose man is op die toneel aangetref en is later deur die nooddienste dood verklaar.

Elijah Kafodya (Foto: Verskaf)z

Die oorsaak van die man se dood is nog nie bekend nie.

Singo sê die vermoede bestaan egter dat die man óók betrokke was by die peutery en weens die druk van die petroleumlekkasie dood is.

Sy twee beweerde makkers Levy Alex Sambo (36) en Elijah Kafodya (28) is later die dag op die N3 voorgekeer en in hegtenis geneem nadat die polisie van die voorval in kennis gestel is. Die twee kon met behulp van sekerheidskameras opgespoor word, sê Singo.

Sambo en Kafodya het intussen in die landdroshof in Memel verskyn op aanklagte van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en diefstal van brandstof.

Hulle sal weer Dinsdag in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting aansoek om borgtog sal doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack ·

Die aanklagte moet dringend hersien word sodat die dade as sabotasie en hoogverraad gesien word. Ons bly n paradys vir wetteloses. Kap die hand af dit werk.

Niklaas ·

Borg , dalks alweer toegestaan. Dan verdwyn hierdie 2 knape in Lesotho in , weg, skoonveld.

Swerwer ·

Weereens die ANC se makkers. Ai die ANC is ‘n wonderlike organisasie wat vir sy makkers sorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.