ʼn Man is Woensdagoggend dood en vyf ander mense beseer in ʼn botsing tussen vier voertuie op die N2 buite Grabouw in die Wes-Kaap.
Russel Meiring, ER24-woordvoerder, het gesê twee bakkies, ʼn minibus-taxi en ʼn vragmotor was betrokke in dié botsing.
Meiring sê ʼn man, wat in dié stadium nog nie geïdentifiseer is nie, het met die aankoms van ER24 en ander nooddienste buite die minibus-taxi op die toneel gelê. Die man het reeds aan veelvuldige beserings beswyk.
Volgens Meiring het ander insittendes van die taxi die man ná die ongeluk uit die voertuig getrek.
Nog ʼn man, ʼn insittende van een van die bakkies, is in ʼn ernstige toestand met meganiese toerusting uit die motorwrak bevry en gestabiliseer. Die man is ook met lewensondersteunende middels behandel.
Meiring het gesê dié man is saam met vier ander mense, wat glo net geringe beserings opgedoen het, na nabygeleë hospitale vervoer.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie in dié stadium bekend nie. Die ongeluk word deur die polisie ondersoek.