Een familie kan nie 55 miljoen SA’ners beheer nie, sê Gordhan

Pravin Gordhan, minister van finansies, tydens sy begrotingsrede op 24 Februarie 2016 (Foto: GCIS)

Pravin Gordhan, minister van finansies, tydens sy begrotingsrede op 24 Februarie 2016 (Foto: GCIS)

Geen enkele familie moet die lot van alle Suid-Afrikaners bepaal nie, het Pravin Gordhan, minister van finansies, Sondag gesê.

Gordhan het tydens ʼn toespraak by sy voormalige skool, Sastri College in Greyville, Durban, tydens die Meningsvormersforum wat deur die ANC gereël is, gesê is daar is ʼn “desperaatheid in moderne politiek wat mense oorhaal om ander, wat reg wil doen, te diskrediteer”.

In ʼn skynbare verwysing na die polities-verbonde Gupta-familie, het Gordhan gesê: “Geen enkele familie moet die lot van 55 miljoen Suid-Afrikaners beheer nie. Dit is ʼn verskynsel wat ‘baantjies vir boeties’ genoem word. Dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar ons het ʼn Suid-Afrikaanse formule nodig om dit op te los.”

Gordhan het gesê demokrasie kan nie opgeoffer word omdat ʼn paar mense dink hulle “besit ons lewens” nie. “Wanneer mense ander persone dreig met hul lewe [soos adjunkminister van finansies Mcebisi Jonas wanneer hulle uitpraat], moet al 55 miljoen mense opstaan en vir daardie persone vra: ‘Wat steek julle weg?’. Die massas is wyser, slimmer en meer oplettend as wat ons dink,” het hy gesê.

Gordhan het aan die volgepakte saal gesê wanneer die land uitdagings beleef soos wat tans die geval is, “moet mens aan die verlede dink, om jouself te inspireer om die regte ding te doen, om op te staan vir die regte goed, en om daardie ekstra bietjie energie te kry wat die gees van daardie tyd sal laat herleef”.

Hy het gesê alhoewel daar onlangs “depressiewe verhale” in die openbaar gedeel is, was sy bemarkingsveldtog van Suid-Afrikaanse besigheid- en arbeidsleiers en die nasionale tesourie met 265 beleggers in Londen, New York en Boston, positief en uitdagend. “Dié beleggers beheer 8 biljoen Amerikaanse dollar wat hulle in ons verbande en aandele kan belê.”

Volgens hom het hy ook baie goeie goed oor die land te sê gehad, ondanks die moeilike vrae wat hy soms tydens die bemarkingsveldtog moes hanteer. Gordhan het begrotingsdeursigtigheid, die menslike nedersettingsdepartement wat die vlak van behuising, water en elektrisiteit insluit, aangehaal as van die goeie goed wat hy met beleggers bespreek het. Hy het toegegee dat hy in sy rol as minister van samewerkende regering goeie goed gesien het, maar ook “vreeslike goed” wanneer hy munisipaliteite besoek het, soos korrupsie, tenders wat verkeerd loop en dienslewering wat nie gebeur soos dit moet om die armes te bevoordeel nie.

Volgens hom is ekonomiese transformasie ook baie moeilik, aangesien die ekonomie tot só mate moet transformeer van een wat geen rol vir swart mense gehad het nie, tot ʼn ekonomie wat ʼn 50%-rol vir swart mense bied. “Dit sal nie ʼn korttermyntaak wees nie,” het hy gesê. Hy het verwys na “rewolusionêre geduld”, ʼn begrip wat die aktivis en voormalige politikus Ben Turok gebruik het.

“Ons kan trots wees op dit wat ons gelewer het, vol vertroue na die uitdagings kyk en ʼn manier vind om dit op te los,” het Gordhan gesê. “Ons moet ook onthou dat sommige dinge langer gaan neem om op te los as ander.”

“Suid-Afrika het briljant presteer in die eerste 20 jaar van demokrasie, maar nou begin die grafiek afplat en dit sal só bly, indien die ekonomie nie groei nie. Daar is nog te veel mense wat op die grens sit. Doen ons dinge wat seker maak dat die massas sleutelbydraers word in die ekonomie? Ons het geld om die brug oor te steek. Ons moet dit net reg aanwend en seker maak dat niks lek nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

jaco ·

die Gupta-familie het voor die 1994-verkiesing reeds in SA aangekom. Hulle verblyfreg en toetstemming om besigheid hier te bedryf is deur die laaste wit NP-regering aan hulle gegee. Die wit mense wat nou so kla oor die Gupta’s, maar wat voor en ook na 1994 vir die NP gestem het, behoort eerder stil te bly.

Evert ·

Wat ook al deur vorige leiers en regerings gedoen is is irrelevant! 2 wrongs does not make a right! Wat belangrik is as jy uitgevang word moet jy Boet vir daai sondes dit is al wat n demokrasie van n Piesangrepubliek skei!

Manie ·

ANC sal iets baie vinnig moet doen, ongelukkig weereens word Zuma en sy Kaders weer beskerm deur die top strukture wat verantwoordelikheid het teenoor Guptas.

Sus ·

Ek het groot respek vir Gordhan en glo sy motiewe is edel. Maar met al die transformasie word dit die blankes pertinent gemarginaliseer om plek te maak vir swartes. Hoekom nie die blankes behou en swartes die kans te gee om te leer nie? Met die transformasie soos ons dit ken sedert ’94 het hierdie land net agteruitgeboer!

JohanP ·

Suid Afrikaners moet wakker wees. Gaan kyk na Hitler en Napoleon. Dit was Een persoon en nie die hele famielie nie.

Ouman ·

Dit is die Zumas en die Guptas plus al die korrupte ANC leiers wat saam staan teen die res. Zumpie het seker gemaak hy beheer al die instansies wat sy skandes kan toesmeer soos SARS, NPA en die Hawks. Al wat hy nog moet doen is om beheer oor die Tesourie en SARB te kry dan kan hy maak soos hy wil. Die naweek se uitsprake wys dat die ANC net na ‘n paar mense se belange kyk en die res in hul dinges instuur. Daar is sekerlik baie bewyse om al die korrupsie te staaf maar die wat toegang daartoe het is te bang om dit te openbaar.

Riaan ·

Nog minder kan 7.5miljoen mense vir 47.5miljoen mense onderhou mnr. Gordhan.

Michael ·

Maak nou nie saak wie verantwoordelik is hiervoor nie dit is ons wat finansieel gaan swaarkry hieroor.Ek was te jonk om vir die NP te stem en het nog nooit anc gestem nie maar ek betaal baie belasting vir wat???

Sinkstatus ·

Al’s in ag geneem is die “bottom line” dit. Bly Zuma nog ‘n jaar in die saal is SA in sy $;:)&@ in….. Al wat hierdie land nog kan red is ‘n moreel sterk leier met begrip en waardes.. Wat die top layer sal skoonmaak van al die korrupte gemors wat daar aangaan.

Johann Marx ·

Een familie kan miskien nie 55 miljoen mense beheer nie…..maar een man se besluit om ‘n Minister sonder ooglopende rede af te dank, veroorsaak dat ek nie kan aftree nie. Veroorsaak dat mense nie kos het om te eet nie. Veroorsaak dat duisende mense hulle werk verloor…..terwyl hy soos ‘n koning leef met die geld wat ek en 5 miljoen ander hard voor werk, en elke maand moet oorbetaal, of tronkstraf in die gesig staar? Demokrasie werk nie…

Zelda ·

Dis waar hulle verkeerd is. N mens dink nie aan die verlede en fokus dan op die toekoms nie. Jy kyk wat nou aan gaan want DIT BE PAAL DIE TOEKOMS.

Christo ·

Dis is nou demokrasie :waar die meeste vir die verkeerde oortuiging stem.
Dit kan nie werk nie.Ons het n ander sisteem nodig.
Bv korrupsie dan deur die meeste wat daardeur baatvind regverdig word.Net solank hulle in die meerderheid is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.