Een hospitaal na die ander weier om man te behandel

André Bezuidenhout se gesondheidstryd het in 2012 begin toe hy ’n operasie moes ondergaan nadat hy sy rug by die werk seergemaak het [Foto: Verskaf]

“Ons sien hoe ons pa daagliks wegkwyn, en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie.”

Die familie van André Bezuidenhout (62) is al raadop omdat verskeie Gautengse hospitale glo volstrek weier om hom te behandel vir ʼn infeksie wat hy weens ʼn ánder dokter se beweerde nalatigheid opgedoen het.

’n Bakteriële infeksie het drie jaar gelede in Bezuidenhout se rug ontstaan ná ʼn operasie waartydens skroewe in sy rug aangebring is as behandeling vir ʼn besering. Volgens sy familie verswak sy toestand daagliks. Nietemin het verskeie hospitale reeds geweier om hom weer te behandel. “Hulle prop hom net elke keer ʼn pakkie pille in sy hand en stuur hom dan huis toe,” het Zania Prinsloo, Bezuidenhout se dogter, aan Maroela Media gesê.

’n Geldinsamelingspoging is intussen begin om Bezuidenhout in ’n private hospitaal te laat opneem.

Bezuidenhout se gesondheidstryd het in 2012 begin toe hy ’n operasie moes ondergaan nadat hy sy rug by die werk seergemaak het. Hy is daarna ongeskik verklaar om verder te werk.

Volgens Prinsloo het haar pa altesaam vyf operasies aan sy rug ondergaan. Die dokters het aanvanklik skroewe in sy rug aangebring, maar dié het sowat vyf jaar later sepsis veroorsaak.

Bezuidenhout is in 2017 na die Edenvale-staatshospitaal in Johannesburg, nadat ’n groot knop op sy lae rug gevorm het. Volgens Prinsloo het die dokters aanvanklik gedink dit is ’n abses en het die knop oopgesny om die vog te dreineer.

Bezuidenhout se gesondheid het in 2018 begin verswak [Foto: Verskaf]

“Dokters kon later vasstel dit is die skroewe wat nie met sy liggaam akkordeer nie. Die skroewe is glo nie korrek ingesit nie en het sepsis veroorsaak,” vertel Prinsloo. “Die skroewe moet uitgehaal word, want dit vergiftig my pa se liggaam, maar niemand wil dit verwyder nie.”

Prinsloo sê haar pa se gesondheid het in 2018 begin verswak. Hy bly sedertdien in die Allen Park-ouetehuis in Kempton Park.

Volgens Prinsloo het haar pa chronies pyn en kan hy nie meer self loop nie. Hy is ook byna permanent bedlêend.

“My pa het my verlede week gebel en gesê: ‘Sussie, ek is besig om dood te gaan’. Hy lyk soos ’n geraamte. Hy kan nie eet nie omdat hy sere in sy mond het. Hy sukkel met koors, hy begin ontwater en braak aanhoudend. Hy kan nie eens ’n koppie koffie vashou nie, want hy bewe te veel.”

Bezuidenhout het sedert 2018 by talle staatshospitale om hulp aangeklop, maar volgens Prinsloo het die dokters keer op keer ’n verskoning gehad waarom hulle hom nie ʼn operasie kan doen nie.

“In 2018 het ons my pa na Thembisa-hospitaal geneem. Dié het ons na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria verwys. In Steve Biko het dokters X-strale van my pa se rug geneem, bloedtoetse gedoen, hom op ’n drip gesit en daarna huis toe gestuur. Ons het hom een keer elke drie maande vir ’n jaar en ʼn half lank soontoe gevat, waar hy net ’n drip gekry het en dan weer huis toe gestuur is. Dieselfde het herhaaldelik by die Thembisa-hospitaal en die Johannesburg Algemene Hospitaal gebeur.

“Die dokters kon duidelik sien my pa is baie siek en kort mediese hulp, maar hulle wou hom nie eens in die hospitaal opneem nie.”

Prinsloo het Bezuidenhout verlede Donderdagaand weer na die Edenvale-hospitaal geneem, waar dokters hom ondersoek en bevestig het dat die skroewe uitgehaal moet word. Bezuidenhout is egter ’n paar uur later, sonder ʼn behoorlike rede, huis toe gestuur.

Prinsloo het Bezuidenhout toe Vrydag na die Tambo Memorial-hospitaal in Boksburg geneem, sodat hy dáár opgeneem kan word. “Hy het weer eens net ’n drip in ongevalle gekry en is daarna met pynpille huis toe gestuur.”

Prinsloo sê met die stygende Covid-19-gevalle is dit boonop ’n risiko om haar pa na ʼn hospitaal te neem waar hy aan die virus blootgestel kan word.

Bezuidenhout beskik nie oor ’n mediese fonds of salaris om ’n private hospitaal te kan bekostig. Hy moet met slegs ’n klein staatspensioen aan die lewe bly. Prinsloo sê sy kan ook nie sy hospitaaluitgawes bekostig nie.

’n Nie-winsgewende maatskappy van Nelspruit, Warriors and Angels, het intussen ’n geldinsameling van stapel gestuur om Bezuidenhout in ’n private hospitaal in dié stad te laat opneem.

Marcélle Metz het dié maatskappy gestig met die doel om siek mense, wat nie die nodige mediese hulp kry nie, te help.

Sy vertel die maatskappy het ’n buskaartjie vir Bezuidenhout gekoop om Vrydag na Nelspruit te reis, sodat hy Maandag in die Mediclinic- private hospitaal in Nelspruit opgeneem kan word. Dit sal egter net moontlik wees indien hulle voldoende geld hiervoor ingesamel het.

Die maatskappy wil ook geld insamel om ’n rolstoel vir Bezuidenhout te koop omdat hy nie meer kan loop nie. “Enigiemand wat ’n ou rolstoel wil skenk, is ook meer as welkom,” sê Metz.

Enigiemand wat graag ’n bydrae wil maak, kan Metz by 071 392 1037 skakel.

Maroela Media het Donderdag reeds ’n navraag aan die Gautengse departement van gesondheid oor die aangeleentheid gerig, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Sarel ·

Die Dr. & Hospitaal wat hom.oorspronklik behandel het?
Hoekom word hulle nie gedagvaar nie…?
Ek is nie onsimpatiek nie maar due Dr. & Hispitaal wat nou weer sal opereer sal volle versntwoordrlikhrid moet neem vir ander nsn sd foute. Soos wst die publiek deesdae Dr.
Dagvaar wel… Dagvaar die regte een…kom waar is julke
Wat daarin spesialiseer?

Sarel ·

Op hierdie stadium gazn enige Stastshospitaal sy dood beteken

Anel ·

As dit ‘n BAD was, is die ongevalle kommissaris verantwoordelik. Daarby is hy medies ongeskik verklaar om te werk. Die ongevalle kommissaris moet hom dus ook ‘n maandelikse toelaag betaal. So, wat is nou die probleem met die ongevallekommissaris? Verder moet die dokter wat die oorspronklike operasie gedoen het ook aanspreeklik gehou word. Al die hospitale wat die man geweier het moet ook gedagvaar word. Maar nou ja, ek vermoed sy van is verkeerd. WAT ‘N SKANDE!!! EN DAN WIL HULLE ‘N NATIONALE GEDONDHEIDSDIENS BEGIN!!! Behoede ons!!!! Sterkte aan hierdie familie.

Micheal ·

Ek stem saam hierdie is n besering aan diens – al daai kostets moet gedek word agv BAD –
Dan moet oorspronklike dokter en hospitaal ook gedagvaar word – is hier nie n Prokureer of selfs Afri forum wat kan intree en die man help

Elisabeth ·

Meneer Bezuidenhout, Ek is smoorkwaad . Ek het net gevoel hoe ek absolute rooi word on die kraag. Die behandeling wat U tot dus vêr is onmenslik en dit heelwat wette oortree. Ek verstaan die hele geval en dat daardie dokters so gevoelloos optree sal nooit die respekt terug wen wat hulle verloor. Hulle is geken by hulle dade. Absolute skokkend.

Oom Hennie Pennie ·

Verskriklik. As mens nie deesdae mediese fonds het vir ‘n privaat hospitaal nie, is jou dae getel.

Adri ·

Ek ken iemand wat ook al vir jare worstel met sepsis ná ‘n knievervanging. Dit lyk of die medici nie ‘n antwoord het vir sepsis nie. Ordentlik ontsmette teaters en teaterpesoneel is die enigste voorkoming.

Thom ·

Probeer eers om die volle waarheid te kry en gee dan kommentaar .

Hoekom ·

My pa het vir ongeveer 30 jaar gelede ‘n rug operasie gehad. Hy was na dit weer soos hy was toe hy jonk was.

My vraag is, na hierdie berig, wat is fout met vandag se hospitale en dokters? Hulle vra al hoe meer geld, hulle het baie meer tegnologie aan hulle kant, maar kan nie beryk wat hospitale en dokters beryk het 30 jaar terug nie?

Wat gaan aan!?

Misky ·

Ek dink ons almal het die antwoord op jou vraag, maar niemand kan of mag die ware antwoord gee nie. Wel, nie hierdie platform nie

Witwolf ·

Verwys die saak na die Menseregte Kommissie toe. Dalk bewys hulle my in die geval verkeerd aangesien hy ‘n wit persoon is!

Africangrey ·

As ek die profiel foto sien van Metz, dan lyk dit nie vir my soos familie nie, kan iemand verduidelik asseblief? Ek bly oorsee en wil baie graag hier help, maar wil seker wees dit word regtig gebruik vir Mnr Bezuidenhout?

annie ·

Besering by die werkplek??? Wat sou hul verantwoordelikheid wees? Niks?

Alta Alleman ·

My pa ïs met erge borspyn hospitaal toe 3 uur in die oggend met die ambulansdien en vir hom was vertel dat hy tot 8 uur moet wag vir ‘n dokter want daar is geen aan diens nie. My pa het 6 uur gesterf aan ‘n hartaanval nadat dit vir hom gesê was deur die suster aan dien om self toilet toe te gaan. Met sy terugkeer is hy dood toe hy op die bed wou klim. Wel 10 minute na 6 stap die dokter in wat wel aan diens was om hom dood te verklaar. Ons het uitgevind dat daar 5 dokters aan diens was. Die eerste een het laat weet dat hy net vir noodgevalle uitgeroep moet word. As hulle hom nie in die hande kon kry nie was daar 4 ander na hom op die lys vir uitroepe. Dit was 25 jaar gelede. Ons het gedagvaar maar die saak was van die rol geskraap want mens kan nie deur Legal Aid die staat dagvaar nie.

Thom ·

As hy by die werk beseer is , is die behandeling vir die ongevallekommisaris se rekening . Die dokters benodig is in privaat die praktisyn van SY keuse . Rekeninge sal ten volle betaal word . Iemand het iewers ‘n admin-fout gemaak en wil nou die skuld op staatshospitale plak . Neem sy HELE mediese geskiedenis ( Let wel , die waarheid ) na ‘n prokureur om ongevallekommesaris tot verantwoording te roep . Weereens ___ moenie lieg of bylas nie .

Nico ·

Rassisme, hoekom is daar dokters wat nie bereid is om die man te behandel, hier word die rassekaart weer gespeel. Sou dit ‘n anders kleurige was, was hy/sy dadelik opgeneem en behandel, nou is dit ‘n wit man, hoekom ongevalle kommisaris niks daaromtrent nie.

Thom ·

Jy praat twak ___ niks met kleur te doen nie ! Iewers het hy of sy mense drooggemaak en probeer nou die blaam verplaas .

Porseleintjie ·

My pa is in Mei na Baragwanah hospitaal verwys omdat hy dringend bloed moes ontvang. Het 12uur die oggend daar aangekom. Tien voor 2 die vlg oggend het hy nog geen bloed ontvang nie. Ook het hul geweier dat ons hom sien. Ongeveer 11uur daardie selfde oggend kry ons n oproep om te se my pa is oorlede. Hy het hom dood gebloei.
Nuusflits: Jou velkleur is die rede dat jy gelos sal word om te sterf in n staatshospitaal. Period.

Ivana ·

As hy sy rug by sy werk seergemaak het en as gevolg daarvan ongeskik vir werk verklaar is, is daai werkgewer verantwoordelik vir die mediese uitgawes

Anoniem ·

40 Jaar gelede miskien, klink eerder of hulle deesdae die eed van Mamon aflê.

Anoniem ·

Waar is die “Kode” wat geteken word as jy begin met jou opleiding. Dokters, Verpleegsters, Nooddienste? Ek het toevallig gehoor van ‘n 12 Jarige kind wat behandeling geweier is omdat beide haar ouers positief gestoets is vir Covid en sy siek geword het haar ouers hulp gaan soek het vir haar. Daar is mos nie ‘n manier wat jy jou siek kind by ‘n hospitaal gaan aflaai en los nie. Dankie aan daardie 1 dokter van Upington wat bereid was om haar te help. Jy laat ‘n riem onder die hart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.