Een in hof ná ontvoering buite Stilfontein-nagklub

Die toneel op die N12 naby Fochville waar twee vermeende ontvoerders in hegtenis geneem is. (Foto: Ben Calitz van Spectrack Security)

Een van twee verdagtes wat met ʼn ontvoering buite ʼn nagklub in Stilfontein verbind word, het Woensdag in die landdroshof op dié dorp verskyn.

Die tweede verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal.

Nkosinathi Maphumulo (34) en sy vermeende medepligtige word daarvan beskuldig dat hulle ʼn 23-jarige man Saterdagoggend in die vroeë oggendure ontvoer en ʼn losprys by sy familie geëis het. Die man se Volkswagen Polo is ook in die voorval gebuit en later teruggevind.

Die verdagtes is die volgende dag deur ʼn multidissiplinêre taakspan in hegtenis geneem en die slagoffer is veilig opgespoor.

Die losprysgeld. (Foto: SAPD)

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die slagoffer was buite ʼn nagklub toe gewapende mans in ʼn Nissan hom gegryp en sy voertuig gesteel het. Kort ná die ontvoering het die verdagtes ʼn losprys by die man se familie geëis.

Hulle het glo gedreig om die slagoffer dood te maak indien daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie, aldus Myburgh.

Die Volkswagen Polo is dieselfde dag as die ontvoering verlate in die Khuma-woongebied sowat 11 km buite Stilfontein gevind. Die slagoffer was egter nêrens in sig nie.

Een van die verdagtes wat op die toneel in hegtenis geneem is. (Foto: SAPD)

Gyselaaronderhandelaars het betrokke geraak om met die ontvoerders te praat. Daar is gevolglik ooreengekom om die geld die volgende dag (Sondag, 6 Mei) by ʼn bepaalde ontmoetingspunt af te laai.

Die taakspan, wat onder andere uit lede van die Noordwes-dwelmtaakspan, misdaadintelligensie, gyselaaronderhandelaars, Wes-Rand-blitspatrollie, Carletonville-honde-eenheid, Fochville-polisie en private sekerheidsmaatskappye bestaan, het die situasie deurlopend gemonitor.

Die polisie het op dié vuurwapen beslag gelê. (Foto: SAPD)

Ongeveer 13:00 Sondag het die span ʼn Mercedes-Benz op die N12 naby Fochville opgemerk en dopgehou. Nadat die insittendes die losprysgeld gevat het, het die polisie op hulle toegesak.

“Die verdagtes het van die aflaaipunt af weggejaag, maar die voertuig het uiteindelik tot stilstand gekom nadat die polisie skote afgevuur het. ʼn Verdagte wat probeer weghardloop het, is deur die polisie in hegtenis geneem. Nog ʼn verdagte (40) is in die skietery beseer en na ʼn hospitaal geneem,” sê Myburgh.

Die polisie het die losprysgeld teruggekry en beslag op die verdagtes se voertuig gelê. Die polisie het ook ʼn vuurwapen gevind wat vermoedelik in die uitvoer van die misdaad gebruik is.

“Ná die verdagtes op die N12 in hegtenis geneem is, is die slagoffer ongedeerd by die Doornkop-polisiestasie afgelaai.”

Die verdagtes word van ontvoering, afpersing en die onwettige besit van ʼn vuurwapen aaangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Porseleintjie ·

In ‘n sprokie van lank, lank gelede was Suid-Afrika ‘n veilige land en nie die misdaadhool van vandag nie.

Tallies ·

Dit wat my die meeste verbaas, is die feit dat daar ‘n nagklub in Stilfontein is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.