Een in hof wat glo man van bank agtervolg

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn 37-jarige beskuldigde wat na bewering lid van ʼn groep was wat ʼn man van ʼn bank in Nelspruit, Mpumalanga, agtervolg en in ʼn parkeerterrein beroof het, het vandeesweek in die plaaslike landdroshof verskyn.

Lucky Ndlovu is Dinsdag by die Kanyamazane-winkelsentrum in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk ontvang het. Hy het Donderdag op aanklag van roof in die hof verskyn.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê Ndlovu was na bewering lid van ʼn groep verdagtes wat op 7 November ʼn man van die bank af agtervolg het na die parkeerterrein van ʼn restaurant in Nelspruit waar hulle hom van ʼn groot bedrag kontant beroof het. Hulle het daarna in ʼn wit VW Polo op die vlug geslaan.

“Die voertuig is opgespoor en beamptes het daarop beslag gelê. Dit is daarna verbind met twee ander sake wat onderskeidelik in Nelspruit en Malelane gebeur het,” sê Hlathi. Nog lede van die roofbende kon egter nog nie opgespoor word nie.

Volgens Hlathi is die saak teen Ndlovu tot 18 Januarie uitgestel vir nadere ondersoek.

Enigiemand met meer inligting wat tot die opsporing van die res van die verdagtes kan lei, word versoek om lt.kol. Erhard Stroh by 082 464 5721 of Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale kommissaris van die polisie, het intussen ʼn beroep op die publiek gedoen om uiters paraat te wees wanneer hulle geld trek of groot bedrae kontant by hulle het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Lucky kon dus nie op sy naam staatmaak nie :-)
As ek in die bui is om dit te doen, sal ek in opvolg hiervan, vertel hoe ‘n ‘Christian Name’ op ‘n vorm in my kantoor ingevul is, enkele dae gelede…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.