Dit is vandag presies ’n jaar sedert John Bothma (22) spoorloos in Viëtnam verdwyn het waar hy soos menige Suid-Afrikaner in dié land gaan skool gee het.
Ná 365 dae is daar steeds geen tyding van dié jong onderwyser nie en die owerhede laat met verloop van tyd al minder van hulle hoor.
“Baie mense sê ek moet van hom vergeet en aangaan met my lewe. Ek kan nie. Ek sal nooit ophou glo nie,” vertel ’n emosionele Coleen Bothma, John se ma, aan Maroela Media.
Maroela Media het vroeër berig Coleen het op 15 Mei verlede jaar vir die laaste keer met haar seun oor die telefoon gepraat voordat sy familie hom sedert 18 Mei nie meer in die hande kon kry nie. Hy is die laaste keer in die stad Ho Chi Minh gesien.
Volgens Coleen sukkel sy nou al maande om enige inligting uit die owerhede te kry rakende die soektog na haar seun in die vreemde. Alle oproepe bly nou onbeantwoord te midde van die Covid-19-pandemie.
“Hulle het ’n ruk terug laat weet dat hulle ’n ontbinde liggaam in Viëtnam gekry het en die DNS sou nagaan om vas te stel of dit moontlik John kan wees. Dit is nou ’n maand en ’n half later en ek het nog steeds niks gehoor nie,” vertel sy.
“As ek net antwoorde kan kry: Lewe John of nie? Dit is al wat ek wil weet.”
Sy vertel dat sy ’n jaar ná sy verdwyning steeds onwrikbaar glo dat sy eendag weer haar kind sal sien. “Die trane vloei vandag. As ek hom net weer kan vashou en vir hom kan sê ek is lief vir hom….”
Coleen vertel dat sy een aand gedroom het dat sy op ’n lughawe staan en dat John in ’n lang gang na haar aangehardloop kom. “Ek sal aanhou glo, hoop en vertrou.”
Daar was aanvanklik ʼn betaalde vliegkaartjie vir Bothma om op 1 Junie verlede jaar huis toe te kom. Dié kaartjie is toe na 18 Junie gewysig in die hoop dat hy dan sy opwagting in Suid-Afrika sou maak, maar toe hy nie opdaag nie, is dié kaartjie gekanselleer.
Nog ʼn Suid-Afrikaanse onderwyser, Mushfiq Daniels, het in Julie verlede jaar ook spoorloos in Viëtnam verdwyn.
Dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van Gift of the Givers, het vroeër aangedui dat die Viëtnamese regering verlede jaar op ʼn massiewe orgaansmokkelsindikaat toegeslaan het. Volgens Sooliman is daar ʼn groot tekort aan orgaanskenkers in dié land en pas die twee jong mans se verdwyning moontlik in die patroon van só ʼn sindikaat.
Coleen vertel dat sy sedertdien spook om in kontak te kom met Sooliman oor dié bewerings.
Hoe kan iemand dink dat ‘n ouer van ‘n kind kan vergeet – jy kan wel aangaan met jou lewe – maar nooit soos tevore nie – aangaan bly ‘n daaglikse stryd.
My hart gaan uit na haar….jou kind bly jou kind…jy kan nie vergeet nie
Ek voel bitter jammer vir enige iemand wat ‘n geliefde onder sulke omstandighede verloor het. Mens kry nie closure nie. Die leemte bly daar tesame met die hoop dat die persoon tog sal terugkom op een of ander wonderbaarlike manier….
Sterkte aan die ouers en naasbestaandes.
Colleen is my boesem vriendin (en ook buurvrou), n mens met n mooier en sagter (en stukkender)hart sal jy nie vind nie. Sy is ook n verpleegster wat haar beroep op haar hart dra, en ook verwaarloosde, hulpelose ou mensies in haar eie tyd versorg (op haar eie onkoste). Na haar man se ontydige dood n paar jaar gelede het haar gesondheid erg versleg – sy loop erg swaar (Rheumatoid arthritis etc.) MAAR NOOIT SAL JY HAAR HOOR KLA NIE. Sy het al finansieel ALLES verloor in die soektog na haar seun, die trane is altyd vlak, maar die hoop en geloof en glimlag is altyd daar.
Ek haal my hoed af vir jou liewe mens, ek sal nooit kan doen wat jy doen en nogsteeds moed bly he, positief bly wees, en nogsteeds in armoede leef om eerder my naaste te help nie.
Mag God jou hartseer gebede beantwoord.
Moet nooit hoop verloor nie. Baie sterkte.
Genugtug, orgaan sindikaat. Dis nou vir jou ‘n rowwe konsep