Een kind raak elke 5 uur weg

'n Kind word elke vyf ure vermis in Suid-Afrika. Argieffoto

‘n Kind word elke vyf ure vermis in Suid-Afrika. Argieffoto

Volgens die Buro vir Vermiste Persone word daar elke vyf uur ʼn kind in Suid-Afrika vermis. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het in 2013 so veel as 1 697 gevalle van vermiste persone gehad.

Nicky Rheeder, woordvoerder van Missing Children SA, sê hoewel baie van dié vermiste persone slagoffers van mensehandel is, is daar ʼn groter aantal ouers wat hul kinders óf verloor óf kinders wat van die huis af wegloop. Dié kinders val gewoonlik in die ouderdomsgroep van 13 tot 17 jaar.

“Sommige kinders kry swaar weens te veel en onregverdige verantwoordelikheid wat op hulle geplaas is. Ander word weer mishandel. Daar is verskeie redes hoekom kinders wegloop en ons ag hul sake net so belangrik soos enige ander kind wat vermis is,” sê sy.

Sy sê kinders word veral by strandoorde as vermis aangemeld. “Gedurende vakansietye sien ons ongelooflik baie kinders wat hul ouers nie op die strande  kan vind nie. Baie kinders word dus agtergelaat en dan moet die polisie en ander die ouers probeer opspoor.”

Rheeder sê ʼn rede hiervoor is moontlik omdat mense dikwels in besige omgewings hul vakansie deurbring of dat baie ouers steeds moet werk.

“Dit is makliker om mekaar te verloor as jou aandag dalk afgelei word. Sommige ouers moet werk en het niemand om na hul kinders om te sien nie.”

Hoewel daar nie ʼn 100%-voorkoming teen mensehandel of vermiste persone getref kan word nie, beklemtoon Rheeder die belangrikheid daarvan om kinders in te lig om hulself te beskerm.

“Ouers moet hul kinders inlig oor wat om te doen om uit gevaarlike situasies te bly en hulle daarvan bewus maak dat gevaar nie altyd as gevaar voorkom nie – dikwels is dit die prentjiemooi situasie wat die meeste gevaar inhou.”

Volgens die verslag van die Missing Children SA word die meeste persone in die Wes-Kaap en Gauteng as vermis aangemeld. Hoewel dié organisasie in 68% van die gevalle die vermiste kinders terugbesorg aan hul families, is daar ook verskeie gevalle waar kinders verkrag of mishandel word.

Rheeder sê dat ouers ʼn veiligheidsplan moet hê vir wanneer kinders vermis raak of wanneer daar iets gebeur.

“Leer jou kinders wat om te doen as hulle by ’n spesifieke plek wegraak en jou nie kan vind nie. Lig hulle ook in oor wat om te doen wanneer hulle dalk ontvoer word.”

Sy sê ouers hoef byvoorbeeld nie 24 uur te wag voordat hulle iemand as vermis aanmeld nie, en kan aandring daarop om met iemand anders aan diens te praat indien daar nie aan hul versoek voldoen word nie.

Vir veiligheidswenke of inligting, besoek Missing Children SA se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.