Een kritiek, nog 2 beseer toe helikopter neerstort

Die wrak van die helikopter. Foto: Verskaf

Drie mense is beseer van wie een kritiek nadat ʼn helikopter Saterdagoggend naby die R101 buite Polokwane in Limpopo neergestort het.

Thabiso Teffo, woordvoerder van die Limpopo- departement van gesondheid, het aan Maroela Media bevestig drie mense is ná die ongeluk na hospitale gehaas. Volgens Teffo is een van die beseerdes in ʼn kritieke toestand, terwyl die ander twee geringe beserings opgedoen het.

Teffo het gesê die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar volgens bewerings was dit baie mistig in die omgewing ten tyde van die ongeluk wat moontlik daartoe bygedra het.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), het aan Maroela Media gesê die Bell 206-helikopter het ses mense aan boord gehad ten tyde van die ongeluk. Ledwaba wou nie oor die oorsaak bespiegel nie en het gesê dit sal deur die owerheid ondersoek word.

Hy het gesê ʼn span van die BLO is kort ná die voorval na die ongelukstoneel ontplooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.