Een plaasmoord ʼn week vir ses jaar – AfriForum

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie. (Foto: Verskaf)

Minstens een persoon word nou al die afgelope ses jaar elke week op ʼn plaas vermoor.

Dít terwyl die getal verdagtes wat deur die jare eindelik vir die moorde skuldig bevind word, uiters laag is.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Donderdag ʼn omvattende verslag oor plaasaanvalle en -moorde bekend gemaak waarin gru-ontdekkings oor die omvang van die probleem, asook die aard waarop hierdie slagoffers vermoor word, aan die lig gekom het.

Altesame 364 plaasmoorde het vanaf 2016 tot 2021 in Suid-Afrika plaasgevind.

AfriForum het hierdie getal deur ʼn reeks bronne geverifieer, waaronder statistiek wat deur die Suid-Afrikaanse polisiediens bekend gemaak is, mediaberigte en AfriForum se netwerk van buurtwagte.

Luidens die bevindinge blyk dit dat die aantal plaasaanvalle en plaasmoorde wat in 2021 plaasgevind het, effens afgeneem het, van 63 moorde in 2020 tot 53 moorde in 2021. Verlede jaar se syfer is wel hoër as in 2019, toe 45 mense in 39 plaasaanvalle dood is. Misdaad het egter oor die algemeen in 2019 afgeneem weens streng afsonderingsmaatreëls wat in daardie jaar ingestel is.

Geweld tydens moorde

Die verslag het ook bevind dat marteling gereeld tydens plaasaanvalle voorkom.

Amper een uit elke tien slagoffers word op een of ander wyse gemartel voordat hulle eindelik vermoor word. Dié syfer het wel drasties afgeneem sedert 2020.

In 2020 is 24% van die moordslagoffers gemartel, terwyl 22% van slagoffers in 2019 dieselfde deurgegaan het. Die minste martelings is in 2021 aangeteken (8%).

Verdagtes het oor die algemeen messe, skerp voorwerpe, pangas, pype en ʼn reeks ander wapens gebruik om slagoffers mee te martel.

Volgens Johan Nortjé, navorser by AfriForum, is hierdie tendens uiters kommerwekkend en moet dringend aandag daaraan gegee word.

“Dit wys dat plaasaanvalle nie net ʼn gewone misdaad is nie en geprioritiseer moet word,” sê hy.

“Wanneer die res van die oorsake van dood ontleed word, is dit skokkend om te sien dat die meeste van die moorde op ʼn kort afstand uitgevoer is en noue kontak met die slagoffer vereis het,” lui die verslag. “Wat egter uiters kommerwekkend is, is die aantal moordslagoffers wat buitensporige geweld ondergaan het voor hul dood.”

Meer as die helfte van slagoffers (53%, oftewel 165 mense) word doodgeskiet, gevolg deur 58 slagoffers (18%) wat een of meer keer met ʼn skerp voorwerp gesteek is.

Altesame 33 slagoffers is oor die afgelope ses jaar doodgeslaan, 18 mense is verwurg en 12 slagoffers se kele is gesny.

ʼn Verdere sewe slagoffers is doodgekap en vier is aan die brand gesteek.

Die oorsaak van 38 slagoffers se moord is nie bekend nie.

In een van die plaasmoorde is die verbrande liggame van Adam Hefer (87) en Johanna Oosthuizen (84) gevind met ʼn Bybel wat tussen die twee van hulle lê. Maroela Media het destyds berig die slagoffers is Februarie verlede jaar op hul kleinhoewe oorrompel en ure lank gemartel. ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat hulle moontlik eers geskiet is voordat hul huis aan die brand gesteek is. Twee koeëldoppies is in die afgebrande huis gevind.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, sê daar is ook ʼn uiterse swak tendens van verdagtes wat nie vir plaasmoorde skuldig bevind word nie.

“Tydens plaasmoorde is gemiddeld 47% van aanvallers in hegtenis geneem, maar net 33% van die gearresteerde oortreders is skuldig bevind,” sê hy.

“Dit is werklik skokkend en toon hoe die strafregstelsel slagoffers van plaasaanvalle in die steek laat.”

(Grafika: Verkaf)

Waar, wanneer?

Nortjé sê die meeste plaasaanvalle waar individue vermoor word, gebeur oor die naweek tussen Vrydae en Sondae, hoewel aanvalle deur die week ook ʼn gereelde verskynsel is.

Hoewel die meeste moorde tussen 18:00 en 20:59 gepleeg is, vind byna ʼn kwart van alle moorde ook in die vroeë oggendure, tussen 00:00 en 03:00, plaas.

Die meeste gedokumenteerde plaasmoorde het in Gauteng voorgekom en die minste in die Noord-Kaap. Dié provinsies het ook onderskeidelik die grootste en kleinste bevolking.

“In die lig van die aantal moorde en die marteling van slagoffers op plase, is dit nodig dat boere hulself begin beveilig,” sê Roets.

“AfriForum poog om boere en hul gesinne meer weerbaar teen plaasaanvalle te maak en sal voortgaan om projekte, aksies en veldtogte te dryf om ons boere veiliger te maak en hulle te ondersteun waar ons kan.”

Guido Urlings, inligtingbestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê dit is vir AfriForum uiters belangrik om kwesbare mense op plase en kleinhoewes te leer om hulself te verdedig.

“As jy jouself kan verdedig, kan jy jou familie verdedig. En as jy jou familie kan verdedig, kan jy help om jou buurt te verdedig.”

Kyk hier om te sien wat jy kan doen om jouself te beveilig:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Renier johannes

Tyd om terug te veg ons word uit gemoor genoeg is genoeg

Swerwer

Dit is uiters belangrik vir almal om hulself te beveilig. Ons wat in die Suidwes Oorlog groot geword het, praat van ondervinding. Hoe vinniger daar besef word dat die kommunis/terroris die hele land infiltreer het, hoe beter vir jou eie veiligheid. Jy kan niemand vertrou nie. Dit geld vir almal, landelik, stedelik sowel platteland. Dit is nie net boere wat geteiken word nie. Wees paraad en leer jou kinders en klein kinders van jongs af om te observeer, waar daar rondbeweeg word.

Marius

Die anc regering, spesifiek die president voel vere vir die boere wat so wreed gemartel en vermoor word. Dit beteken inherent dat hy dir modus operandi ondersteun en goedkeur.

Philip

Ek sal nie verbaas wees as daar vorentoe groepe gaan vorm wat wette heeltemal gaan ignoreer ondergronds gaan opereer sonder om enigsins geinfiltreer te kan word nie maar dan kan onskuldige mense aan die ontvangkant wees.

gatgogga

En die drie hoofstroom TV media, naamlik eNCA, SABCN en Newza span saam om nie oor enige plaasmoord berig te lewer nie.
Is dit “Collusion”?