Een persoon is dood en 10 is beseer nadat verskeie voertuie Saterdagaand in Durban in ʼn kettingbotsing betrokke was.
Robert McKenzie, ʼn woordvoerder van KwaZulu-Natal se nooddienste, het Sondag gesê die ongeluk het op die M19-snelweg naby die Blair Athol-afrit plaasgevind.
“Verskeie voertuie en ʼn vragmotor was in die botsing betrokke. Dit is nog nie duidelik hoe die ongeluk gebeur het nie,” het McKenzie gesê.
Dit is in dié stadium nie bekend of die oorledene ʼn man of ʼn vrou is nie. Een persoon is kritiek beseer en die brandweer moes die persoon uit die voertuig se wrak sny. Nege mense is met ernstige beserings na nabygeleë hospitale geneem.