Een sterf ná skietery by taxistaanplek, nog 1 gewond

misdaadtoneel

Argieffoto

’n Taxibestuurder is dood en ’n lid van die publiek beseer ná ’n skietery by ’n taxistaanplek in Roodepoort, Johannesburg.

Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ’n 31-jarige man het Donderdagaand gesterf toe ’n verdagte hom by die staanplek verskeie kere in die bolyf geskiet het waarna die verdagte op die vlug geslaan het.

’n 23-jarige vrou is in die kruisvuur in haar heup gewond en na die Helen Joseph Memorial-hospitaal geneem vir verdere behandeling. Tebogo Magoro, woordvoerder van Netcare 911 wat op die toneel was, het gesê die vrou was nie in ʼn kritieke toestand nie.

Die man, ’n taxibestuurder, het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Volgens Dlamini is geen motief vir die voorval nog bekend nie, maar die polisie ondersoek die voorval.

Geen verdagtes is al in hegtenis geneem nie. Sake van moord en poging tot moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.