Een sterf, talle beseer in Centurion-botsing

Een persoon het gesterf en talle ander is beseer. (Foto: Emer-G-Med)

Een mens is dood en verskeie ander is in ʼn bedenklike toestand ná ʼn botsing op die R55, in die omgewing van Centurion in Gauteng, vroeg Saterdagoggend.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, sê verskeie nooddienste het hulle na die toneel gehaas waar talle van die beseerdes steeds in die pad gelê het.

“Die verwronge wrak van ʼn ligte afleweringsvoertuig is op sy dak aangetref, terwyl ʼn ligte motor teen ʼn muur tot stilstand gekom het,” sê Van Reenen.

Die motor het teen ‘n muur tot stilstand gekom. (Foto: Emer-G-Med)

Een van die beseerdes is na ‘n hospitaal gevlieg. (Foto: Emer-G-Med)

Volgens ooggetuies het een van die voertuie die ander glo teen die kant getref. Die bakkie, wat vol passasiers was, het omgeslaan en die mense is van die voertuig geslinger.

ʼn Vrou van naastenby 40 jaar oud is op die toneel dood verklaar.

“Sestien ander mense het beserings opgedoen wat wissel van ernstig tot kritiek en die hulp van die Halo-lugambulans is ingeroep,” sê Van Reenen.

Ander pasiënte is met ambulanse na verskillende hospitale geneem.

Die polisie ondersoek die voorval.

In ʼn afsonderlike voorval is drie mense in Bloemfontein dood nadat ʼn motorbestuurder oënskynlik kort voor middernag op ʼn nat pad in Scholtzstraat, Universitas, beheer oor die voertuig verloor en dit ʼn boom getref het.

Drie mense het in die ongeluk in Bloemfontein omgekom. (Foto: Med24/7)

Jaco Kaalsen, ʼn paramedikus by Med24/7 in die stad, sê die drie insittendes – twee mans en ʼn vrou – het met paramedici se aankoms op die toneel reeds gesterf.

Die drie is in die wrak vasgekeer en die liggame moes met behulp van die brandweer bevry word.

Die polisie ondersoek ook dié voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Op daardie stuk pad jaag die mense asof hulle op Kyalami is. Verder glo ek hier was oorlading ook ook. 17 mense tussen ‘n baie en ‘n motor!

Blomme ·

Tragies. Sterkte aan die families. Hoekom middernag? Wat het geword van die aandklokreël?

Eiervrug ·

Lyk of hulle party gehou het agterop daai bakkie. Kyk hoe lê die bierbottels…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.