Een sterf toe vliegtuig by Bram Fischer neerstort

Die Bram Fischer-lughawe. (Foto: Google)

Een persoon is dood en nog een ernstig beseer toe ʼn ligte vliegtuig Saterdagoggend by die Bram Fischer Internasionale Lughawe in Bloemfontein neergestort het.

Die vliegtuig, vermoedelik ʼn Piper met net die twee insittendes aan boord, het op ʼn grasveld naby die lughawe neergestort en aan die brand geslaan, aldus die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa).

Volgens Sipho Towa, woordvoerder van die Vrystaatse nooddienste, het die vliegtuig, wat glo vir opleiding gebruik word, tydens die landing neergestort.

Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die oorlewende insittende is vanoggend met ernstige beserings na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.

Soos Maroela Media verstaan is die persoon na die Busamed-hospitaal in die stad geneem vir mediese behandeling.

ʼn Geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.