Een sterf, verskeie beseer toe verdagte vir polisie vlug

Sigaretboksies was Woensdagoggend besaai oor die ongelukstoneel. (Foto: SAPD)

’n Motoris is dood en drie mense beseer toe ’n verdagte in ’n Toyota Quantum Woensdagoggend in die omgewing van Polokwane glo met onwettige sigarette vir die owerhede gevlug het.

Die verdagte het beheer oor die voertuig verloor en teen ander motors gebots. Dié man, ’n buitelandse burger, is ook in die voorval beseer.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie in Limpopo, sê lede van die snelwegpatrollie het ʼn Toyota Quantum omstreeks 08:00 agternagesit nadat die bestuurder van dié voertuig roekeloos op die Polokwane-verbypad gery het.

Die Quantum het by die R37-pad in die rigting van Burgersfort aangesluit waarna die verdagte beheer oor dié voertuig verloor en teen drie ander voertuie gebots het wat in die rigting van Polokwane gery het.

“Die Quantum het onwettige sigarette vervoer.”

Volgens Mojapelo is die bestuurder van een van die ander drie voertuie in die botsing dood terwyl die oorledene se vrou en ’n insittende van elkeen van die ander twee motors ernstig beseer is.

Dié beseerdes is ná die botsing saam met die verdagte, wat alleen in die Quantum gery het ten tyde van die voorval, almal na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

’n Saak van strafbare manslag asook die besit van onwettige sigarette word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Die regering se gierigheid of diè van die smokkelaar?
Dit is byna 40 jaar sedert ek laas aan ‘n sigaret geteug het maar ‘n kommentator praat van gierigheid en dit is blykbaar waaraan die regering skuldig is. Indien rokers belastingvrye sigarette wil rook, gun hulle dit. En poelieste, doen waarvoor julle betaal word.

Cornelius ·

Dis net misdaad en misdaad en meer misdaad. Ek wonder hoeveel onwettige burgers in die land woon en hoekom hulle daarmee wegkom. Daar is werklik geen kultuur van wetsgehoorsaamheid en respek vir ander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.