Een uit sewe Kruger-renosters het dalk beestuberkulose

Prof. Michele Miller toets ‘n renoster vir beestuberkulose. (Foto: Verskaf deur die US)

Een uit elke sewe renosters in die Krugerwildtuin is moontlik met beestuberkulose besmet. En tog is die besmette renosters skynbaar gesond.

Só dui die omvangrykste ondersoek nóg onder ʼn vrylopende populasie renosters aan.

Die betrokke ondersoek is deur die Universiteit Stellenbosch (US) se dieretuberkulose-navorsingsgroep, SANParke en die San Diego Zoo Wildlife Alliance in die VSA uitgevoer en toon dat een uit elke sewe renosters in die Krugerwildtuin tekens van infeksie met Mycobacterium bovis (M. bovis) toon.

M. bovis is die patogeen wat beestuberkulose (bTB) veroorsaak.

Die monsters van 437 renosters wat tussen 2016 en 2020 in die Krugerwildtuin versamel is, is as deel van die navorsing getoets en het eindelik ʼn geraamde voorkoms van M. bovis -infeksie van 15,4% by swart- en witrenosterbevolkings in die park getoon.

Die teenwoordigheid van infeksie by renosters beteken egter nié dat die diere siek of sterwend is nie, benadruk die navorsers van die ondersoek wat verlede week in die gesaghebbende Amerikaanse vaktydskrif PNAS gepubliseer is.

Prof. Michele Miller, hoof van die dieretuberkulose-navorsingsgroep wat ook die Nasionale Navorsingstigting (NNS) se Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in diere-TB beklee, sê hul navorsing toon dat die meeste van die renosters die infeksie in bedwang kan hou as hulle andersins gesond is.

“Dit kan vergelyk word met mense wat met Covid-19 besmet is of latente TB het, maar asimptomaties is. Die besmette renosters huisves die bakterieë, maar hul immuunstelsel hou dit onder beheer. Hulle verloor nie gewig nie, hoes nie en as jy na ʼn groep van 400 renosters kyk, sou jy nie kon sê watter van hulle besmet is nie. Hulle kan potensieel jare lank met die infeksie lewe as dit onder beheer gehou word.”

(Foto: Verskaf deur die US)

Volgens dr. Peter Buss, senior veeartsenybestuurder in die Krugerwildtuin se veeartseny- en natuurlewedienste, is daar tans geen bewyse dat TB enige impak op die renosterbevolking sal hê nie.

“Die renosters word aan die organisme blootgestel en hulle toon ʼn immuunrespons, maar hulle word nie siek nie en gaan nie daaraan dood nie. Ons weet byvoorbeeld dat TB by ons leeus voorkom en dat individue daaraan sal vrek, maar as jy na die populasievlak van die siekte kyk, lyk dit of die leeus goed vaar en of hul getalle redelik stabiel bly.”

Die bevindings is ook nie juis ʼn verrassing nie, omdat TB by minstens 15 ander spesies in die Krugerwildtuin voorkom.

Rebecca Dwyer, hoofouteur van die navorsingsverslag en ʼn PhD-kandidaat in die dieretuberkulose-navorsingseenheid, sê op haar beurt dit lyk nie of hierdie patogeen die gesondheid van individuele renosters drasties raak nie, maar die navorsing hou wel betekenisvolle implikasies vir bewaringsbestuursbesluite in.

“Die TB-toetsing van renosters in die Krugerwildtuin wat vir verskuiwing vir bewaringsdoeleindes geoormerk is, kan vertroue verhoog dat hulle die minimum risiko vir ander vatbare individue by hul bestemmings inhou,” verduidelik sy.

(Foto: Verskaf deur die US)

“Omdat Suid-Afrikaanse renosters deur stropery, habitatverlies en droogte bedreig word, is dit van kernbelang om hulle te kan verskuif na vestings waar hulle veilig is en hul genetiese diversiteit bewaar kan word,” sê Miller. “Maar TB is ʼn beheerde veterinêre siekte en toe ons navorsingsgroep in 2016 in vennootskap met SANParke TB by Krugerwildtuin-renosters gevind het, het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling bewegingsbeperkings ingestel om te verhoed dat die infeksie na ander populasies versprei.”

Hierdie beperkings het ʼn hindernis geskep vir die verskuiwing van renosters na ander nasionale of private reservate en het ʼn betekenisvolle impak op die bewaring van die spesies, omdat die Krugerwildtuin histories ʼn belangrike populasiebron vir ander bewaringsvestings in Suid-Afrika en ander Afrika-lande is.

Nuwe toets ontwikkel

Die oplossing was om met ʼn toets vorendag te kom om besmette diere te identifiseer voordat hulle verskuif word om siekte-oordrag te voorkom.

Wetenskaplikes verbonde aan die dieretuberkulose-navorsingsgroep in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het nou ʼn nuwe diagnostiese toets ontwikkel om M. bovis by renosters op te spoor.

Die ontwikkeling is gebaseer op ʼn bloedtoets wat vir TB-bespeuring by mense gebruik is en is ʼn verbetering op tradisionele diagnostiese metodes wat kultuur gebruik, omdat dit op die immuunreaksie gebaseer is.

Dr. Wynand Goosen, Wellcome International-opleidingsgenoot in die dieretuberkulose-navorsingsgroep, sê die siftingstoets wat in die navorsing gebruik is, is in 2019 deur die dieretuberkulose-navorsingsgroep geldig verklaar en onlangs deur die departement vir gebruik by renosters in die Krugerwildtuin goedgekeur.

‘n Renoster se bloed word getrek vir toetsing. (Foto: Verskaf deur die US)

ʼn Bestuurstrategie wat ʼn kwarantynprotokol en ʼn toetsskedule behels, is ook in samewerking met SANParke opgestel en goedgekeur. “As ons nou renosters uit die Krugerwildtuin wil verskuif, beskik ons oor die opsie om hulle in kwarantyn te plaas en te toets en daarna uit te stuur,” sê Buss.

Dwyer sê die bevindings van hierdie navorsing is van betekenisvolle belang vir wildbewaring – nie net van renosters nie, maar van talle ander spesies in hierdie konteks. “Dit toon dat die verspreiding van patogene in stelsels met veelvuldige gashere belangrike gevolge vir die bewaring van verskillende spesies en van die ekostelsel as geheel het.”

Tóg bestaan daar effense kommer

Dr. Carmel Witte, ʼn kwantitatiewe epidemioloog by die San Diego Zoo Wildlife Alliance en senior outeur van die navorsingsverslag, benadruk dat die uiteindelike gesondheidsuitwerking van TB op ʼn populasievlak nog onbekend is. “TB is ʼn siekte wat neig om oor lang tydperke te manifesteer en wanneer jy ʼn aansteeklike siekte vererger met stogastiese gebeure soos klimaatsverandering en ongeëwenaarde mortaliteit weens die stroop van bedreigde diere, wek dit kommer.

“Voortgesette waarneming van renosters en ander diere kan ons help om die langtermyn-impak van hierdie siekte in wilde diere te verstaan, asook om katastrofiese populasieverliese en verdere siekteverspreiding te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

‘Het die siekte, maar a-simptomaties, soos Covid-19.. ‘Verkeerde woorde in dieselfde sin. Persoonlik sukkel ek dan dadelik met die geloofwaardigheid van die bevindings.
En die term ‘kan dalk’ . Dis nie oortuigende nie. Of hulle het die siekte onder lede, of hulle het nie, of die bevindings is glad nie betroubaar nie, vandaar sulke terme.

Swerwer ·

Arme diere, wonder waar kom al die besmetting vandaan want in ons kinderjare was daar nie soveel besmettings nie.

domheks ·

Hoop die renosterhorings dra die kiem oor na die waarvoor hulle gestroop word! Dan sal stropings drasties verminder.

Harley Davidson ·

So ook die leeus en buffels net nog ‘n bewys dat Pres Trump reg was oor Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.