Een van Angel se moordenaars ‘in te veel pyn’

Nealon Redhouse en Deon Harmse tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Raahil Sain / ANA

Vonnisverrigtinge van die twee mans wat skuldig bevind is aan die moord op die 12-jarige Aliya “Angel” Tee, is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth uitgestel. Een van die moordenaars het aangevoer hy het te veel pyn gehad om na die verrigtinge te sit en luister.

Nealon Redhouse (18) en Deon Harmse (24) is verlede maand in verband met Angel se moord en poging tot moord op haar ouers skuldig bevind.

Harmse het aan sy prokureur gesê dat hy nie kan sit nie aangesien hy te veel pyn het. Hy het glo onlangs ʼn longinfeksie gehad en moes ʼn operasie ondergaan.

Sy prokureur het aangevoer hy was nie in staat om met sy kliënt te konsulteer nie.

Staatsaanklaer Mujaahid Sandan het versoek dat Harmse deur ʼn mediese dokter ondersoek word om vas te stel of hy steeds geskik is om verhoor te word.

“Die staat is nie onbedagsaam oor sy gesondheid nie, maar ons moet aan koste-implikasies dink. Daar is staatsgetuies in die getuiebeskermingsprogram wat hierheen moet reis vir verrigtinge,” het Sandan gesê.

Die saak is tot later uitgestel vir Harmse om ʼn ondersoek te ondergaan.

Angel was ʼn graad 7-leerling en prefek aan die Strelitzia Primary School in Port Elizabeth.

Sy is in Junie 2016 vermoor toe Redhouse en Harmse, wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, die agterdeur van haar huis in Barberrystraat in Bethelsdorp oopgedwing het. Hulle het Angel op teregstellingswyse doodgeskiet. Haar ouers, Candice en Edmund Tee, is ook tydens die voorval geskiet en vir die dood agtergelaat.

Edmund is geskiet toe hy die aanvallers wou afweer. Nadat die aanvallers hom geskiet het, het hulle na ander gesinslede in die huis begin soek. Angel en haar ma was in die badkamer toe die aanvallers op hulle afgekom het. Hulle het by die aanvallers gepleit om hulle nie te skiet nie, maar Angel is in die kop geskiet.

Candice is ook geskiet, maar het die aanval oorleef. Sy het haar bewussyn tydens die skietery verloor. Sy het later bygekom en besef haar dogter is doodgeskiet.

Die aanval het Edmund verlam gelaat en hy is nou van ʼn rolstoel afhanklik.

Regter Mandela Makaula het tydens sy uitspraak bevind die motief vir die aanval hou verband met ʼn voorval waar Candice gesien het hoe ʼn berugte bendelid vermoor word.

Aliya “Angel” Tee. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Theresa B ·

Ag siestog nê – Plak ‘n verdomde pleister en luister verder!!

Santjie ·

Nou waar….. vra ek…. sit SY longe dan (haha) ….. maar nou wil ek rerig net weet, wat se operasie kry ‘n mens vir ‘n long-infeksie?

Ella ·

Hulle het géén gevoel betoon teen hul slagoffers nie. Hoekom word daar nou gekyk hoe hulle “voel”.
Misdadigers maak n bespotting van die howe en die wet en hulle kon weg daarmee.
Die arme ouers se lewens het vir ewig verander oor bende bedrywighede.

Anoniem ·

En daar vang Hy toe almal vir Gekke ! Maar Hulle weet hoe om te moor ! Jy’s ‘n verleentheid vir die samelewing ! Theresa B, ek stem plak net ‘n pleister en gaan AAN ! ?????

Siek en sat ·

En die oyn war SY moes verduur toe jy haar vermoor het?????? Pyn of nie. Gaan sit en luister wat na wat jy aangevang het jou skermunkel. Hoop jy vrot in die tronk.

marous ·

Nou laat sy prokureur vir hom ‘n lekker vere kussing en matras indra dan kan hy le en luister .

Lizelda ·

Dis vir my vreeslik eienaardig dat wanneer die kriminele daad gepleeg word hulle geen kwale, pyne en skete het nie, maar wag tot hulle uitgevang word, dan is hulle of terminaal siek of soveel pyn. Nee, man hy speel vir tyd…

pieter ·

Laat die lae gespuis sit en klaar luister. Geen simpatie nie.

Rina ·

Geen simpatie!

MM = vingerfout›››› gehaD en nié gehaNd!

Mariné Lourens ·

Dagsê Rina

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Theresa ·

Nee. Geen wag of uitstuur vir iets vir pyn nie!!! Moordenaars – doelbewus – dus geen simpatie met iets of iemand nie. Hy moes duidelik voor almal gesê geword het hy moet maar uithou met sy pyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.