Een van dié vier kandidate dalk nuwe hoofregter  

Die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika (Foto: Stefan Schäfer, Lich – eie werk,via Wikemedia Commons)

Pres. Cyril Ramaphosa het vier moontlike kandidate vir oorweging van die pos van hoofregter aan die Regterlike Dienskommissie (RDK) en aan die leiers van politieke partye in die parlement voorgelê.

Mogoeng Mogoeng het vir tien jaar die land as hoofregter gedien voordat hy in Oktober die tuig neergelê het.

Die vier kandidate wat deur Ramaphosa vir die pos geïdentifiseer is, is Mbuyiseli Madlanga, regter van die Konstitusionele Hof, Mandisa Maya, regterpresident van die appèlhof, Dunston Mlambo, regterpresident van Gauteng, en adjunkhoofregter Raymond Zondo.

Die RDK sal nou onderhoude met die kandidate voer waarna Ramaphosa ʼn finale besluit sal neem oor wie as hoofregter aangewys moet word.

Ramaphosa het in September versoek dat geskikte kandidate benoem moet word vir dié belangrike pos as hoof van die regstelsel van Suid-Afrika. Die benoemingsproses het op 1 Oktober gesluit waarna ʼn kortlys van agt persone bekend gemaak is.

Suid-Afrikaners het tot 15 Oktober kans gehad om geskrewe beswaar aan te teken teen enige van die kandidate wat benoem is.

Daar was aanvanklik kommer uitgespreek oor die lys van kandidate vir die nuwe hoofregter nadat die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, en die openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, op die kortlys ingesluit is.

Hlophe kan dalk binnekort in ʼn staat van beskuldiging geplaas word nadat die RDK hom aan growwe wangedrag skuldig bevind het. Dít terwyl Mkhwebane se geskiktheid as OB steeds deur die parlement ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefaan

Moet ons nie maar ons name verander nie. Miskien het ‘n Blanke dan ‘n kans om ook genomineer te word

Samuel

Mag die beste kandidaat gekeur word. Nie iemand wat ANC ideologie regbank toe bring nie. ‘n Onafhanklike denker.

Shakespeare

Hlophe of Mkhwebane is uitstekende nommerpas kandidate siende dat die Regering en Kie altyd die onbevoegstes en korrupstes aanstel in hoë of lae posisies.

Casper

Daar was nou al soveel uitgewysde sake in die Hooggeregshof en Appèlhof dat Mkhwebane nie bevoeg is vir haar pos nie.Hoelank wil die parlement nog wat ondersoek.

H.A.

Kaders.