Een van Johann Botha se ‘moordenaars’ doodgeskiet

Johann Botha. Foto: Maroela Media

Een van die vier beskuldigdes wat tereggestaan het vir die moord op Johann Botha (53) is verlede week doodgeskiet terwyl nog een steeds soek is.

Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media bevestig Ntobeko Hlatshwayo (33), wat verlede week deur die Valke doodgeskiet is, was een van die beskuldigdes in die moord op Botha.

Hlatshwayo was onder die 16 gevangenes wat verlede week uit die Johannesburg- Medium A-tronk, oftewel Sun City, ontsnap het. Nkosiyazi Phungula (27), wat ook ontsnap het, is ook een van die beskuldigdes in Botha se saak. Hy is steeds soek.

Hlatshwayo en nog ʼn ontsnapte is Dinsdagaand in ʼn skietgeveg in KwaZulu-Natal deur die Valke doodgeskiet. Die twee se motor is deur lede van die Valke, die Durban-polisie se honde-eenheid en die provinsiale taakspan opgemerk en tot stilstand gedwing. Die verdagtes het op die polisie geskiet. Die polisie het teruggeskiet en albei verdagtes noodlottig gewond. Die polisie het beslag gelê op ʼn 9 mm- en ʼn speelgoedpistool.

Volgens Louw het die ander twee beskuldigdes in die moord op Botha, Thembi Mbatha (19) en Qelani Moyo (31), intussen Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn. Die saak is tot 30 April uitgestel terwyl daar gewag word op ʼn doodsertifikaat vir Hlatshwayo en om die polisie kans te gee om Phungula op te spoor.

Die North Eastern Tribune berig Moyo is op 18 Maart in ʼn informele nedersetting naby die Jeppe Hostel in hegtenis geneem nadat hy sedert die moord op Botha in Junie verlede jaar soek was. Hlatshwayo, Phungula en Mbatha is kort ná die moord in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig Botha en sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76), die eienaar van Zebra Inn-restaurant in Jeppestown, Johannesburg, het die aand van 7 Junie 2017 in die restaurant gekuier waar hulle doodgeskiet is. Die restaurant was een van Botha se gunsteling-kuierplekke.

Vier verdagtes, drie mans en ʼn vrou, het omstreeks 19:20 by die restaurant ingestap en iets bestel om te drink. ʼn Ruk later het van die verdagtes vuurwapens uitgepluk en Botha en Swazi voor omstanders koelbloedig doodgeskiet. Die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld en twee vuurwapens van die toneel gevlug.

Botha, ʼn bekende in natuurbewaringskringe en die voormalige uitvoerende regisseur van die natuurprogram 50/50, was sedert begin verlede jaar die aanbieder van Pretoria FM se Sondagaandprogram Nagmusiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SjN ·

En nou gaan al die skuld op die oorledene gepak word en die ander kom skotvry daarvan af.

Buitestander ·

Die verhoor prosses is net meer koste effektief en poedig afgrhandel as ‘n uitgerek te saak!

Jack Klok ·

Die straf is ook nommerpas.

Amptelik is die doodstraf in Seffrica afgeskaf, maar nie-amptelik word 50+ mense daagliks tereggestel. Dan ontsnap die moordenaars en vermoor nog mense.

Johann ·

Welkom in SA se “demokratiese” stelsel van reg en geregtigheid, waar die aanhouding van moordenaars deel uitmaak van die gekke parradys!

Koos ·

Dit gaan nog steeds nie Johan terugbring nie. Wat ‘n reguit mens en kenner in sy gebied. Tog jammer hy was effe liberaal ook, dié dat hy nie gepla was om in Jeppestown uit te hang nie. Dit kon seker elders ook gebeur het, maar die risiko is sekerlik hoër daar?

Piet ·

Koos die moord van n mens is nie net tragies nie, dis ook teen die 10 gebooie – Mens mag dit nie doen nie, maar dis ook maar op elke persoon om nie daarvoor te tender nie. Onthou jy nog vir Amy Biehl?

Wolf ·

Wow, kan iemand in die polisie of valke darem raak skiet? Dis n eerste. Hoekom reik hulle nie n beloning uit van “dead or alive” op die ander ontsnaptes ook nie. Dan word ons amptelik the “Southern African Wild South ” Hier word mos daagliks honderde mense in elk geval vermoor. En o ja, maak sommer ook die besit van vuurwapen lisensies n kriminele oortreding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.