Een van laaste verdagtes in Rwanda-volksmoord in Wes-Kaap vas

Fulgence Kayishema is een van vier verdagtes in die Rwanda-volksmoord van 1994 wat owerhede al jare lank ontwyk. (Foto: Simon Wohlfahrt / AFP)

Die mees gesoekte verdagte in die Rwanda-volksmoord van 1994 is Woensdag ná meer as twee dekades in die Paarl in die Wes-Kaap aangekeer.

Luidens ʼn verklaring deur die Verenigde Nasies (VN) se tribunaal vir oorlogsmisdade (IRMCT) is Fulgence Kayishema tydens ʼn gesamentlike operasie tussen Suid-Afrikaanse owerhede en ʼn span van die VN, wat getaak is om die oorblywende voortvlugtiges op te spoor, aangekeer.

Kayishema is een van vier verdagtes wat owerhede al jare lank ontwyk.

Daar word beweer dat Kayishema destyds die moord van ongeveer 2 000 Tutsi-vlugtelinge, onder wie mans, vroue, kinders en bejaardes, by die Nyange Katolieke kerk georkestreer het. Hy is sedert 2001 voortvlugtig.

Fulgence Kayishema (Foto: UNIRMCT/Twitter)

“Fulgence Kayishema was langer as 20 jaar voortvlugtig. Sy inhegtenisneming verseker dat hy uiteindelik vir sy beweerde misdade sal boet,” het Serge Brammertz, hoofaanklaer van die IRMCT, in reaksie op die inhegtenisneming gesê.

“Volksmoord is die mensdom se ernstigste misdaad. Die internasionale gemeenskap is daartoe verbind om te verseker dat oortreders vervolg en gestraf word. Hierdie inhegtenisneming is ʼn tasbare bewys dat hierdie verbintenis nie sal kwyn nie en dat geregtigheid sal geskied – ongeag hoe lank dit vat.”

Aanklagte van volksmoord, medepligtigheid, sameswering om volksmoord te pleeg en misdade teen die mensdom staar Kayishema, ʼn voormalige polisie-inspekteur, in die gesig.

“Kayishema het direk aan die beplanning en uitvoering van hierdie massamoord deelgeneem, insluitend deur petrol te bekom en te gebruik om die kerk met die vlugtelinge daarin af te brand.

“Toe dit misluk, het Kayishema en ander ʼn stootskraper gebruik om die kerk ineen te laat stort. Dit het die vlugtelinge se dood veroorsaak en hulle onder die puin begrawe. Kayishema en ander het daarna oor twee dae toesig gehou oor die proses om die liggame van die kerkterrein af na massagrafte te verskuif.”

rwanda-worldvision

(Foto: Wvi.org)

CNN berig dat Kayishema aanvanklik sy identiteit ontken het toe hy aangekeer is. Later het hy glo toegegee wie hy werklik is en aan ondersoekers gesê “ek wag al baie lank om in hegtenis geneem te word”.

Volgens ondersoekers het hy oor die jare verskeie identiteite en vervalste dokumente gebruik om onder die radar te bly.

ʼn Senior beampte by die aanklaer se kantoor het aan CNN gesê Kayishema is uiteindelik deur ʼn “intense, deeglike en strawwe ondersoek” aangekeer.

“Familielede en kennisse is deeglik ondersoek. Dit het ondersoekers eindelik tot by die regte plek gelei om soektogte uit te voer en noodsaaklike intelligensie in te win.”

Nagenoeg 800 000 mense – van wie die meeste Tutsi’s – is destyds tydens die Rwanda-slagting deur Hutu-ekstremiste vermoor. Aloys Ndimbati, Charles Ryandikayo en Charles Sikubwabo word tans nog gesoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frank ·

Sê nou maar wat jy wil: 30 jaar gelede sou jy nie in RSA kom probeer wergkruip het nie!

Blikkantien ·

Lyk my die hele wêreld se misdadigers en kriminele vind ‘n heenkome hier

Republikein in die Wes Kaap ·

Hierdie hool is ‘n misdaadnes. Tog bly Afrikaners hoopvol.

Gaitsigubib ·

Ek is een van hulle Rep. Ek kan nie anders nie. Jy het ook n goeie plan daar in die woestyn. Jy sit nie net en niks doen nie.

hpven ·

Suid Afrika, aanhitsing tot volksmoord teen minderhede. Klink so bekend, is dit nie wat Malema doen nie?…

SomeOne ·

Volksmoord is die mensdom se ernstigste misdaad. Die internasionale gemeenskap is daartoe verbind om midadigers aan te kla
Aanklagte van volksmoord, medepligtigheid, sameswering om volksmoord te pleeg en misdade teen die mensdom kan mos teen rammaparra gedoen word, hy is mos verantwoordelik vir “sy” mense

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.