Een van tweeling vermis, moontlik ontvoer

Argieffoto: Nico Strydom

Die Valke en polisie het kragte saamgesnoer en ondersoek ʼn saak van ontvoering, verkragting en aanranding van ʼn 19-jarige man en sy tweelingsuster.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het Dinsdag gesê die 19-jarige man het ’n saak by die Bosbokrand-polisie aanhangig gemaak nadat hy daar in ʼn hospitaal wakker geword het ná ʼn nare ervaring waarin hy, sy suster en ander jeugdiges betrokke was.

“Volgens inligting wat tans in die polisie se besit is, beweer die man hy en sy tweelingsuster het in Februarie op ʼn advertensie op sosiale media gereageer wat op soek was na mense wat goed is in wiskunde vir ʼn sogenaamde mediese skool in Johannesburg,” het Hlathi gesê.

Volgens Hlathi het die twee ʼn paar keer met die “skooleienaar” in verbinding getree, waarna daar glo in Februarie vir hulle buskaartjies van Kroonstad in die Vrystaat, na Johannesburg gekoop is, aangesien hulle dit nie self kon bekostig nie.

“Die man het voorgegee om ʼn ware barmhartige samaritaan te wees, aangesien hy selfs vir hulle geld oorbetaal het om kos vir die pad te koop.”

ʼn Swart BMW X6 het die twee by die Johannesburgpark-stasie gaan oplaai en na ʼn sekere huis in die stad geneem waar daar glo sowat 24 ander seuns en meisies was. “Hulle is skielik met ʼn onbekende middel ingespuit waarna hulle glo verkrag en aangerand is. Hulle is Woensdag uit die huis verwyder. Hy is nie bewus wat gebeur het totdat hy in die hospitaal in Bosbokrand wakker geword het nie. Iemand het hom langs die pad sien lê en hospitaal toe geneem.”

Toe die polisie die tweeling se tannie, wat hul voog is, gebel het, het sy gesê sy het Sondag ʼn oproep van die meisie ontvang wat beweer sy word na Lagos in Nigerië geneem.

Die Valke is van die voorval in kennis gestel met die doel om ʼn gesamentlike ondersoek in samewerking met ander relevante veiligheidsdienste van stapel te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Penellope Jones ·

Goeie aarde.
Soms klink dinge darem net te goed om waar te wees, wat gewoonlik ook die geval is.

Helena ·

Dit is vreeslik hoe mense se behoefte om te studeer of werk te kry gebruik word deur skelms om hulle in te doen of nog erger. Ek hoop regtig al die jong mense word gevind. Hartseer dat dit reeds nie ongedeerd sal wees nie.

Goeie Griet ·

Wit, swart, indieër, pienk…… wat??? Waarvoor moet ons op die uitkyk wees? Hoe lyk sy??

MissDemeanor ·

Goeie Griet, jy gaa die meisie nie sommer raakloop iewers in die dorp nie. Laat mens dink. Die prostitute wat mens soms langs die pad gewaar is dalk nie hartelose los vrouens wat huwelike wil opbreek nie, maar meisies wat in slawerny in gemanipuleer is

jennefer ·

Slawerny keer terug! seksslawe, Arme kinders wat so uitgebuit word.

Lee ·

Dis verskriklik. Kan daar nie ‘n foto van haar geplaas word nie? Ek hoop regtig nie hulle vat haar Lagos toe nie want haar familie sal haar dan nooit weer sien nie. Ek hoop regtig hulle kry haar baie vining!!

Andrea ·

MissDemeanor: Prostitute is gewoonlik meisies en vrouens wat daartoe gedwing is op een of ander manier. Ek kan nie glo die stokou siening dat prostitute goedkoop, losbandige vroue is wat die werk vreeslik geniet, word nog êrens gehuldig nie.

Marsha ·

Ek wil graag vir ELKE ouer en familielid in ons land se: As julle hulp soek van die publiek om op die uitkyk te wees vir jou familielid wat weg is, gee toestemming aan die pers om te se of die familielid bruin,wit of swart is.
Op so ‘n manier kan mense jou ten minste help.Maar ons kan nie RAAI wie die persoon is en hoe sy/hy lyk nie.Ons is almal bereid om mekaar te help waar ons kan maar sonder die nodige inligting is ons hande afgekap.
Soms stop mense by ‘n vulstasie en dit is dan wanneer jy verdagte persone oplet.As jy dan weet wie word gesoek kan jy help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.