Een van verrassing-vierling oorlede

Die voetafdrukke van die Emery-vierling.

Die voetafdrukke van die Emery-vierling.

Een babaseuntjie van die bekende Emery-vierling wat op 28 Junie onverwags op 27 weke gebore is, is oorlede.

Robert Emery, die vierling se pa, het gesê Bradley wat by geboorte 825 gram geweeg het, is op 14 Julie oorlede. “Hy was net te klein. Ek dink nie dit was moontlik om hom te red nie,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Robert (37) en sy vrou, Chantel (34), het ʼn drieling verwag. Chantel, wat ʼn parapleeg is, het onverwags by hul huis in Johannesburg in kraam gegaan en drie seuntjies is by die huis gebore. Chantel en die babas is hospitaal toe gehaas, waar ʼn vierde babaseuntjie sy opwagting gemaak het.

Bradley, Harvey, Gabriel en Daniel is almal in die waakeenheid opgeneem en moes deurentyd deur asemhalingsmasjiene ondersteun word. Robert het Donderdag aan Maroela Media gesê die egpaar kon sedert hul babas se geboorte hulle nog glad nie vashou nie. “Ons word glad nie toegelaat om hulle op te tel nie. Hulle is nog te klein,” het hy gesê.

Die egpaar staar egter nou nog ʼn struikelblok in die gesig nadat hul mediese fonds aangedui het dat daar ʼn R1 miljoen beperking op hul mediese dekking is. Die hospitaalrekening het op 10 Julie reeds op R800 000 gestaan.

Volgens Robert was die egpaar onder die indruk dat hulle onbeperkte mediese dekking het, maar het nou eers gehoor dat die mediese fonds hulle op die verkeerde skema geplaas het en nie die een wat hulle versoek het nie. “Ek wil nie nou te veel sê nie, omdat my regspan binnekort ʼn dringende aansoek teen die mediese fonds in die hof gaan bring. Maar hulle het ons beslis op die verkeerde skema geplaas en dit wil voorkom of regstappe ons enigste opsie is,” het hy gesê.

Robert het ook gesê die mediese fonds wil glo net vir basiese sorg betaal vir die babas wat onder 1 kg gebore is, naamlik Bradley en Daniel. Dit beteken dat die twee babas sedert geboorte nie gedek was vir gevorderde sorg soos ventilators nie.

“Die hospitaal was tot nou toe ongelooflik tegemoetkomend en het nog niks gesê oor die probleme met die mediese fonds nie. Maar een of ander tyd gaan hulle ook hul voet moet neersit, want hulle bestuur ʼn besigheid,” het Robert gesê. “Ek glo soos die seuns sterker word sal hulle al minder bloedoortappings en suurstofondersteuning nodig hê, maar [die mediese sorg] bly baie duur.”

Robert en Chantel het ook ʼn driejarige dogtertjie, terwyl Robert nog ʼn seun en twee dogters het. “Almal van ons gaan maar gebuk onder die druk van hierdie situasie en ons kinders by die huis kan sien dat ons gespanne is. Ons moet heeltyd in en uit hospitaal toe en natuurlik moet ons nog ons kinders by die huis ook grootmaak en aandag gee. Dit is ʼn baie moeilike tyd vir almal,” het hy gesê.

Lees alle vorige berigte oor die Emery-vierling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Dit voel vir my asof die hospitale dieselfde modus operandi volg as die Nkandla kontrakteurs!! Hulle laai en laai en laai net hulle “kostes” en so hulle rekenings!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.