Een van vier ontsnaptes vasgetrek

Jeffrey Nkuna is steeds op vrye voet. Foto: SAPD

ʼn 31-jarige gevangene wat op 14 November saam met vier ander verdagtes uit polisie-aanhouding ontsnap het, is Saterdag in die Rwanda-nedersetting buite Tzaneen tydens ʼn gesamentlike polisieoperasie vasgetrek.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê lede van die Haenertsburg SAPD en die Tzaneen-groepering se opsporingspan het gehelp om Abel Modiba weer in hegtenis te neem.

Die soektog na drie ander ontsnaptes duur nog voort.

Modiba en vier ander gevangenes is vroeër die week in ʼn vangwa vanaf die Haenertsburg-polisiestasie na Polokwane vervoer toe hulle op ʼn manier die vangwa oopgekry en in Polokwane uit die bewegende voertuig gespring het. Een van die gevangenes, wat in verband met huisbraak in hegtenis geneem is, is kort na die ontsnapping weer aangekeer.

Die ander vier verdagtes kon egter daarin slaag om te vlug en ʼn soektog is onmiddellik van stapel gestuur, waarna Modiba gister vasgetrek is.

Ngoepe sê polisiebeamptes is tans nog op soek na Thomas Nkuna (34) van die Rwanda-nedersetting, hoewel hy ook soms in die Wisani-nedersetting in die Mhlaba-Cross gebied buite Tzaneen woon. Die ander twee voortvlugtende verdagtes is Jeffrey Nkuna (27), ook van die Rwanda nedersetting, en George Nkuna (19) van die Wisani-nedersetting.

George Nkuna wat ook steeds gesoek word. Foto: SAPD

Die drie verdagtes is vroeër op aanklagte van huisroof en gewapende roof in hegtenis geneem.

Intussen sal Modiba binnekort in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding.

Enigiemand met inligting oor waar die oorblywende drie verdagtes hulself bevind, word versoek om kol. Linky Mathebula by 064 756 8218, ao. Andrew Ngamuni by 082 414 3031 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan H. ·

Boei hom nou asb sodat hy nie weer kan ontsnap nie,verkieslik aan n bewegende taxi. Daar is nog baie om te vang,

Andrea ·

Johan, as ek president van hierdie land word, maak ek jou minister van polisie. Ek jou v jou styl.

Meisie ·

Daar was 4 verdagtes, 1 word gevang toe bly daar 4 oor? Iemand kan nie somme maak.

Tania Heyns ·

Dagsê Meisie

Dankie vir jou kommentaar. Die berig is egter korrek. Van die vyf ontsnaptes, is een reeds vantevore vasgetrek. Vier was met ander woorde nog soek, waarvan nog een oor die naweek vasgetrek is. Ek hoop dit klaar die verwarring op.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.