Een van vyf opsies wag op Sylvester

Nico van der Walt, die Karoo Nasionale Park se parkbestuurder, by Sylvester toe hy verlede jaar uiteindelik gevang is. Foto: Verskaf.

Nico van der Walt, die Karoo Nasionale Park se parkbestuurder, by Sylvester toe hy verlede jaar uiteindelik gevang is. Foto: Verskaf.

SANParke het Woensdag bekend gemaak hulle oorweeg vyf opsies vir Sylvester, die jong rondloperleeu van die Karoo Nasionale Park wat Maandag vir die tweede keer uit die reservaat ontsnap het, sodra hy weer gevang word.

Wanda Mkutshulwa, SANParke se uitvoerende hoof van korporatiewe dienste, het gesê SANParke is bewus van die publiek se pleidooie om Sylvester se lewe te red.

“Ons wil die publiek gerusstel dat daar maatreëls is om die leeu veilig te vang. ʼn Verklaring is Dinsdag voortydig uitgereik dat hy van kant gemaak gaan word en ons vra om verskoning vir dié verkeerde stelling. Dit is ʼn onakkurate stelling van die posisie waarin die organisasie hom bevind,” het sy gesê.

Sy het gesê die volgende opsies word vir Sylvester se toekoms oorweeg:

* Hy kan teruggeneem word na die Karoo Nasionale Park, met die heinings wat versterk word;

* Hy kan hervestig word in ’n ander nasionale park;

* Hy kan geskenk word aan ’n ander staatsbeheerde bewaringsgroep;

* Hy kan geskenk word aan ’n private bewaringsgroep; of

* Hy kan van kant gemaak word indien hy ʼn gevaar vir mense inhou of te veel vee vir prooi doodmaak.

“Ons moet in gedagte hou dat ’n leeu ’n baie groot bedreiging vir ’n mens se lewe is. Ons optrede in dié verband is in ooreenstemming met internasionale norme en standaarde. Ons wil die publiek verseker dat ons besluit oor Sylvester se toekoms verantwoordelik en weldeurdag sal wees,” het sy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig nuus dat Sylvester moontlik van kant gemaak gaan word, het hewige reaksie op sosiale media ontlok.

Talle mense het met #SaveSylvester op Twitter hul misnoeë oor die besluit uitgespreek en dié hutssleutel was Woensdagoggend een van die gewildste onderwerpe.

Reynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het Woensdag aan Maroela Media gesê daar is egter nog geen amptelike besluit geneem om Sylvester uit te sit nie.

“Ons kan bevestig dat dit wel een van verskeie opsies is wat oorweeg word as hy weer gevang word, maar dis is beslis nog nie sy finale lot nie,” het Thakhuli gesê.

Hy het gesê ʼn hoëprofiel-vergadering sal na verwagting Woensdag gehou word om Sylvester se toekoms te bepaal.

“Die mannetjie is nog jonk en dit is duidelik dat hy nie in die park aanpas nie. Hy word beskou as ʼn probleemdier en ons moet besluit of hy geskuif kan word en of hy op ander plekke sal kan aanpas.”

Verskeie reservate en wildplase het aangebied om vir Sylvester ʼn nuwe heenkome te bied.

Intussen is die soektog na Sylvester Woensdagoggend met eerste lig hervat. ʼn Span van 14 mense, onder wie ʼn veearts, is op sy spoor. SANParke het ná sy vorige ontsnapping vir hom ʼn satelliethalsband aangesit, wat die span gebruik om na hom te soek.

“Die soektog word tans te voet gedoen, maar die terrein is baie moeilik. Sylvester is sowat 25km buite die westelike kant van die reservaat.”

ʼn Helikopter word ook ingespan om te help soek.

Sylvester, die naam wat omliggende boere vir hom gegee het ná sy eerste ontsnapping op 5 Junie verlede jaar, het Maandag vermoedelik weer op dieselfde manier ontsnap.

“Swaar reënval het veroorsaak dat grond onder die heining weggespoel het en hy het weer deur ʼn gat onder die heining gekruip,” het Thakhuli vroeër gesê. Hy het teen Dinsdag reeds ʼn koei op ʼn plaas gevang.

Sylvester, toe drie jaar oud, se vorige soektog en versekeringseise van al die prooi wat hy tydens sy 25 dae op vrye voet verorber het, het SANParke R800 000 uit die sak gejaag. Hy het toe sowat 26 skape, ʼn koei en ʼn koedoe doodgemaak.

Hy is uiteindelik 29 Junie omstreeks 17:00 in die Nuweveldberge, noordwes van Beaufort-Wes in die Wes-Kaap, aangekeer. Hy is toe vermoedelik deur ander dominante leeumannetjies verjaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

wynand ·

Waarom nou al die opsies? Waarom nie eerste daaraan gedink voordat julle net sommer wou “uitsit” nie!! Werk julle so met al die diere? Dit laat ‘n baie slegte smaak in die mond. Het dit nie van julle verwag nie. Nou weet ons hoe julle te werk gaan.

John ·

‘n Leeukenner sou julle destyds gewaarsku het, dit sal weer gebeur, maar ek glo die leeu het ‘n groot toeriste-trekpleister geword na sy ontsnapping. Die groot uitgawe is jul eie skuld. So al asof die leeu dit doelbewus beplan het, soos wat die bestuur aangaan. Aai tog!

Justa ·

As dit nie was vir die diere aktiviste nie was Sylvester se lot verseel. Nou ewe skielik opsies. Wat gebeur met diere wat ons nie van weet nie? Word seker onder die mat ingevee. Daar is vandag weer n pragtige leeu met die naam van Mohawk in Kenya doodgeskiet nadat hy onstsnap het uit Nairobi Nasionale Park.

Jan ·

Ek wens nou net dat al hierdie opgewonde diere liefhebbers sommer die koste van die leeu vang etc. wil dek, en dat hierdie rusbank natuurbewaarders bietjie hulle geld wil sit waar hulle monde is.

Meneer ·

Gaan hy ooit iewers aanpas? Dalk is hy ‘n swerwer met ‘n van Van der Merwe, sonder ‘n huisie, ‘n volksie en ‘n meisie. Of dalk moet hy homself net gaan vind. Maar teen watter prys vir die mensdom? Ek is net baie dankbaar dat ek nie die besluit moet neem nie.

wynand ·

Jan al ons gekla en geneul om die leeu te red.Jy hoef nie deel daarvan te wees nie.Moet dit dus nie lees nie.Niemand dwing jou nie.

wynand ·

Jammer een deel van sin het verlore gegaan.Wat ek wou se is dat ons geklaery en geneulery die leeu gered het.Jy het nie gehelp nie.

Jan ·

Wynand, as dit jou geld was kon jy daarmee maak soos jy goed dink. Ek hou nie daarvan dat soveel belastinggeld op een probleem dier gemors word terwyl die hele renoster spesie bedreig word nie. Hoekom is die een leeu juis so belangrik? Ons parke is dan vol leeus.

Henk ·

Skiet daai leeu. Hy maak net moeilikheid en hy gaan nog mense byt.

Tammy ·

Jan en Henk julle kommentaar stink. As julle nie van diere hou nie moenie artikels oor diere lees nie. As jy nie diere kan waardeer nie het n deel van jou siel verlore geraak, dit is n feit.

Rupert Ashford ·

Hoe weet jy Jan en Henk hou nie van diere nie? Natuurbewaring beteken nie om al die diere ‘n drukkie te gee nie maar om verantwoordelike bestuursbeginsels binne sekere riglyne toe te pas. Die oomblik as daar ‘n heining rondom ‘n stuk grond is moet dit bestuur word en is dit nie meer 100% “natuurlik” nie.

Joann ·

Jan en Henk vat n gap en verwyder jul self. Sies dat ons nog sulkes soos jul moet he in die land.

KarooKlong ·

Snaaks dat mense van minder belang vir die eienaar van die dier voorsê wat mag hy doen en wat nie. So toi-toi tipe opstandigheid.

John ·

Watter soort park is dit wat nie ordentlike heinings het nie? Die leeu het nie ‘n draadtang nie. Lyk my mense kom en gaan in die park sonder die medewete van die bestuur. Het ‘n paar renosters ook hul horings so verloor? Of ‘n paar bokke in biltong verander?

wynand ·

Elke leeu is belangrik.Indien daar sonder nadenke besluit kan word om so n pragdier uit te sit is hulle kort voor lank ook op die lys van bedreigde spesies.Dit is n les om eie goed op te pas en te bewaar.Moet nie net die opsie om te vernietig kies nie.

Rina ·

As hierdie ‘n lelike hyena was so jy ook so gevoel het? Party keer moet jy maar die mooi diere skiet sodat die ander diere ook ‘n kans kry. En wat van die boere se diere, is die leeu nou belangriker net omdat hy mooier is?

Wynand ·

Jy kry nie ‘n lelike hyena nie. Alle diere is mooi. Elkeen dien ‘n doel in die voedselketting. Dit is nie Sylvester se skuld indien die bewaarders nie hulle werk oordentlik doen om te verseker dat hy wegloop nie. Nou wil hulle om uitsit omdat hulle gefaal het. maak nie sin nie.

alida ·

Hou tog op kerm oor die leeu!!! Neem hom na die Kruger Wildtuin waar daar genoeg plek is vir hom. Soos dit is hou hy ‘n gevaar in vir mense.

Takkie Takuuza ·

Kry ‘n buitelandse jagter om hom te jag vir ‘n miljoen. Dan is die probleem uitgesort en die koste ge-dek. Of gaan ons maar wag tot hy ‘n mens dood byt en dan verduidelik julle vir die naasbestaandes hoekom dit so nodig was om hierdie leeutjie te red? Ek weet julle wil elke dingetjie op die aarde bewaar, maar alles het ‘n einde.

Scalla ·

Ek sal die leeu met liefde vat en versorg en sal hom elke week een skaap gee en een bees per maand, dit is baie minder as wat tans gesteel word en sal verseker n afskrikmiddel wees vir die klomp diewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.