Een vas ná aanval op Limpopo-kleinhoewe

Die kleinhoewe buite Bela-Bela in Limpopo waar John Ramalho oorval en aangerand is. Foto: Verskaf

Die kleinhoewe buite Bela-Bela in Limpopo waar John Ramalho oorval en aangerand is. Foto: Verskaf

ʼn Man is Maandag in hegtenis geneem in verband met die aanval op ʼn kleinhoewe buite Bela-Bela in Limpopo waartydens ʼn bejaarde man erg aangerand en sy twee honde doodgeslaan is.

Sakkie Louwrens, direkteur van Heritage Protection Group (HPG), het aan Maroela Media bevestig die verdagte is in die Mabopane-nedersetting noord van Pretoria in hegtenis geneem. Volgens Louwrens is die man wat op die kleinhoewe aangeval is, John Ramalho (84), se selfoon in die verdagte se besit gevind.

Maroela Media het vroeër berig Ramalho is die oggend van 24 Januarie op ʼn kleinhoewe in die Roodekuil-gebied deur vyf aanvallers oorval. Ramalho is by die huis in gedwing waar hy erg aangerand is. Sy twee klein hondjies is ook in die sitkamer met potte doodgeslaan.

Die polisie het voorheen gesê die aanvallers het met ʼn .303-geweer, .22-geweer en ʼn pistool, asook verskeie huishoudelike items in Ramalho se bakkie op die vlug geslaan. Ramalho is ná die aanval na ʼn hospitaal gehaas.

Volgens Louwrens is die vier ander verdagtes wat na bewering by die aanval betrokke was steeds soek.

Dit is nog nie duidelik op watter aanklagte die verdagte tereg sal staan of wanneer hy in die hof sal verskyn nie. Maroela Media het by die provinsiale polisiewoordvoerder navraag gedoen en wag vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wouter ·

1. Poging tot moord. 2. Dieremishandeling 3. Inbraak 4. Besit van onwettige vuurwapens (eienaar s’n wat nou in hulle besit is) 5. Roof 6. Aanranding met doel om ernstig te beseer. 7. Betreding. 8. Rasse haat. So kan ek seker by 783 klagte uitkom as ek moet aangaan.

Hannelie ·

Ek stem saam jou Wouter. Daar is so baie klagtes as jy alles bo in ag neem. MAAR hy gaan aansoek doen vir borg en loskom. Hy gaan sê hy was honger….bly in ‘n nedersetting, toe gaan steel hy, maar hy maak toe sommer ‘n mens en diere dood, want hoekom, want hy kan en mag.
Asb oral lees ons van hierdie moorde….maar daar kom net mooi niks van nie. Want daar is ‘n blinde oog teen al hierdie wrede dinge. God laat dit nie toe nie. Ons kan net bid vir alle onskuldige mense se veiligheid teen die wreedheid wat besig is om hierdie land oor te neem.

cor ·

Moet niejou hoop daarop sit nie, ek het gelees in die Volsblad ‘n boer van die Brandfort distrik is aangeval by sy hek hulle het op hom geskiet hy het terug geskiet en een gewond wat nou nie meer ess, saam met ander boere is die vier gevang . Hulle is los gelaat want daar is nie n waterdigte saak teen hulle nie aldus die aanklaer. Nou ondersoek hulle die moontlikheid om die boer aan te kla van moord

marous ·

Neem hulle na die man se familie vir beradering … laat in die aand en gaan die volgende dag terug , dan behoort hulle gerehabiliteer te wees.

Annie ·

Die wet in die land is n klug .. en n eensydige saak tot voordeel van kriminele

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.