Een vas ná gewelddadige betoging by renbaan

Polisiebeamptes begelei van die perde ná die voorval. (Foto: SAPD)

Een persoon is in hegtenis geneem nadat betogers van ’n plaaslike informele nedersetting Donderdag op die Fairview-renbaan in Port Elizabeth toegesak en die perde op die perseel losgelaat en leed aangedoen het.

’n Perd is ná die voorval dood aangetref. Dit word beweer dat dié dier met skerp voorwerpe gesteek en aangerand is.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê een persoon (49) is intussen in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld en kwaadwillige beskadiging van eiendom.

Niemand is egter nog in hegtenis geneem in verband met die perd wat gevrek het nie hoewel Naidu erken het dat nog inhegtenisnemings moontlik kan volg.

Polisiebeamptes begelei van die perde ná die voorval by die Fairview-renbaan. (Foto: SAPD)

Naidu het vroeër gesê ’n groep van tussen 150 en 200 betogers het vroeg Donderdagoggend die slotte van die perdestalle by die renbaan oopgebreek en 28 perde met geweld uitgejaag.

Die perde het in alle rigtings gehardloop terwyl hulle met stokke en klippe geteister is en verskeie perde is in die voorval beseer.

Maroela Media het vroeër berig die gewelddadige aanval op die perde word intussen wyd veroordeel.

“Hierdie gewelddadige aanvalle kan nooit geregverdig of goedgekeur word nie,” het Nqaba Bhanga, provinsiale leier van die DA in die Oos-Kaap, gesê.

“Die DA doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse polisiediens en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging om ondersoek in te stel en seker te maak dat die verantwoordelike persone in hegtenis geneem word en dat hulle vervolg word. Die reg kan nie toelaat dat mense private eiendom betree en sulke geweld pleeg sonder gevolge nie.”

Piet Mey, provinsiale leier van die VF Plus in die Oos-Kaap, het gesê die voorval is “onverstaanbaar, onverskoonbaar en weersinwekkend”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

En wat sal met hom gebeur? Sal die gereg sy LAAAAANGGGGGGGGGGGGG pad loop tot 2051? Haai hoe gaap ek nou!

Willem

Tussen 150 en 200 amok makers en 1 word gevang?????

Frank

Ok, nog 199 gesoek…

Jakes

ASB, daar was hordes op die video wat gewys was en nou skielik net een vas? Nie n baie goeie CV vir die polisie nie. Uiters skandalig.

Delia

Die perd het nie gevrek nie…die perd is doodgemaak..vermoor..