Een vas ná kerkgangers JMPD-beampte aanval

‘n Skermskoot uit die video.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Maandag gesê ʼn verdagte is in hegtenis geneem ná die aanranding van Siphiwe Sebati, ʼn Johannesburg-metropolisiebeampte (JMPD), Sondag buite ʼn kerk in Hillbrow.

Die voorval het plaasgevind toe twee beamptes ʼn motor wat onwettig in Claimstraat in Hillbrow geparkeer was wou wegsleep omdat dit ʼn verkeersopeenhoping veroorsaak het.

Die stad se departement van openbare veiligheid het in ʼn verklaring gesê uit voorlopige inligting blyk dit dat die JMPD-beampte sy vuurwapen uitgehaal en ʼn skoot in die lug afgevuur het om te voorkom dat die oproerige kerkgangers na hulle toe beweeg. “Dit het hulle egter nie van stryk gebring nie en hulle het die beampte aangeval,” lui die verklaring.

Mashaba het gesê die voorval is nie net ʼn aanval op die JMPD of Sebati nie, maar ʼn aanval op die gereg.

Volgens Luyanda Mfeka, woordvoerder vir Mashaba, het Sebati verskeie beserings opgedoen tydens die voorval. “Hy is gelukkig sedertdien ontslaan,” het Mfeka gesê.

Mfeka het gesê die verdagte is volgens die polisie glo ʼn onwettige immigrant. Hy sal na verwagting binne die volgende twee dae in die hof verskyn.

Mashaba het sy dank teenoor die polisie uitgespreek en bygevoeg hy hoop die ander wat betrokke was by die aanval word vinnig vasgetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

re
‘n Skoot in die lug afgevuur

Iemand wat bloot ‘n skoot in die lug afvuur is nie vuurwapenbevoeg nie want daardie koeël val êrens waar mense beseer kan word.

Chrisjan ·

Ek stem saam die persoon is onbevoeg om ‘n vuurwapen te he. Dit lyk nie of hy enige opleiding gehad het nie. Ek hoop die instansie wat hom bevoegdheid gegee het word ondersoek. Hy is ‘n bedreiging vir homself en medemens. Sy makker wat hom nie help nie is ewe pateties.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.