Een vas ná Khayelitsha-rooftog

(Argieffoto)

ʼn Man is agter tralies en nóg twee mense word ondervra ná Vrydag se rooftog waarin 11 toeriste in Khayelitsha in Kaapstad die slagoffers was.

ʼn Bende van vyf gewapende rowers het die groep van 11 toeriste oorrompel op die perseel van ʼn skool wat hulle besoek het. Hulle het na ʼn tuinbouprojek daar gaan kyk. Die verdagtes het glimbaadjies aangehad, het die groep in hul voertuig ingewing en van hul beursies, kameras en selfone beroof.

Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Die polisie het ná die voorval sy 72-uur-aktiveringplan in werking gestel om die skuldiges op te spoor. Ingevolge dié plan word bykomende hulpbronne onder meer beskikbaar gestel.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, het gesê speurders volg sedert die voorval spesifieke leidrade op in ʼn poging om die rowers aan te keer.

Die polisie het Sondag ʼn 26-jarige verdagte in verband met die rooftog in hegtenis geneem.

Hy verskyn na verwagting Maandag in die hof op ʼn aanklag van gewapende roof

“Speurders ondervra ook twee ander verdagtes van onderskeidelik 20 en 24 jaar oud,” het Potelwa gesê.

“Namate die ondersoek vorder kan nog inhegtenisnemings verwag word.”

Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, James Vos, het vroeër gesê die stad, in samewerking met die departement van toerisme en Kaapstad-toerisme, het intussen sogenaamde toeristeveiligheidsmonitors en TravelWise-ambassadeurs by toeristetrekpleisters oor die stad ontplooi in ʼn poging om veiligheid op te skerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Sal daar ooit in SA so n bohaai gemaak word van plaasmoorde en die nuwe tendens om insittendes van gestrande of onklaar motors op SA paaie summier dood te skiet ? Ons moet net so ywerig besin en optree ten opsigte van Suid afrikaners se veiligheid as oor dié van buitelandse toeriste.

Sê-maar-net ·

Waarom, o waarom word toeriste deur die misdaadhole van Suid-Afrika begelei? Wat is so fassinerend aan ‘n skool se groentetuin?? Ons het sóveel meer om te bied – veral in die Wes-Kaap!

Roger ·

Hul pluk die vrugte van hul onkunde, want hul verwag seker daardié beloofde reënboognasie wat hul help skep het met hul inmenging en sanksies.

Johann ·

Die boodskap wat die 11 toeriste in die buiteland gaan oordra sal seker meer as ‘n duisend toeriste wat van voorneme was om ook hier ‘n draai te maak, permanent af te skrik. Ons eie anti-toerisme veldtog in werking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.