Een vas ná konstabel langs pad doodskoot kry

Die toneel waar die konstabel doodgeskiet is. Foto: Rescue Care

ʼn Man het homself aan die polisie oorgegee in verband met die moord op ʼn polisiekonstabel wat Sondagmiddag in die Sydenham-gebied buite Durban doodgeskiet is toe hy ʼn stilstaande voertuig langs die M19 genader het.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die nasionale polisiekommissaris, sê die verdagte het hom self aan die polisie by die Sydenham-polisiestasie gaan oorgee.

Volgens Naidoo was die konstabel saam met kollegas besig met patrollering op die M19 wat tussen Reservoir Hills en Pinetown strek. Die polisiebeamptes het ʼn stilstaande voertuig met sy noodligte aan langs die pad opgemerk en besluit om ondersoek in te stel.

“Terwyl die konstabel die voertuig genader het, het ʼn insittende in die voertuig hom doodgeskiet. Die verdagte het van die toneel gevlug, maar hom later by die Sydenham-polisiestasie oorgegee waar hy op aanklag van moord aangehou word,” het Naidoo gesê.

“Die omstandighede van die moord op die konstabel is in dié stadium baie vaag. ʼn Span wat bestaan uit forensiese kenners en deurwinterde ondersoekers van die Valke is egter opdrag gegee om die moordsaak te ondersoek.”

Die naam van die oorledene is nog nie bekendgemaak nie aangesien al sy naasbestaandes eers in kennis gestel moet word, maar Naidoo het bevestig hy was ʼn lid van die Sydenham-misdaadvoorkomingseenheid.

Intussen het genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, sy medelye met die konstabel se familie en vriende betuig. “Ek het die waarnemende provinsiale kommissaris, lt.genl. Mkhwanazi, opdrag gegee om seker te maak dat dié saak deeglik ondersoek word,” het Sitole gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marius ·

Was die polisie se voertuig gemerk en watse klere het die konstabel gedra hy dalk met sy wapen in sy hand na voertuig geloop en beskuldigde gedink hy word geroof so ja selfverfediging sal gebruik word.Sterkte aan families

Elna ·

Marius jy praat waar dit was dalk heel moontlik wat gebeur het jammer as ek nou bespiegel maar daar is soveel misdadigers met uniforms aan dat n mens nie weet wie is die ” real officer” nie. Ons lees baie van mense met uniforms wat rowers is so n mens kan hoegenaamd nie kanse vat nie. Innige meegevoel van die SAPS lid se familie wat n geliefde verloor het in hierdie verband. Sterkte aan die betrokke persone.

Bekommerd ·

‘n Moordenaar met ‘n gewete, wil jy nou meer. Innige simpatie met die naasbestaandes wat hul geliefde verloor het terwyl hy sy werk gedoen het. Hoe onregverdig is die lewe nie.

Se maar Net ·

Hoekom ondersoek die Valke nie ook elke plaasmoord nie?
Laat mens net wonder!

willem Botha ·

Daar bewys ek my teorie die klomp kry hoe profiel ondersoeke vir wat dit werd is en die plaas aanvalle,verkragtingsake ondersoek .Die agtjarige seun wat se gesig geskend is se saak word ondersoek as huisroof en geen maar geen verdagtes is eers geidentifiseer nie wat nog van gearesteer ,waar is regverdigheid nou.

fourie ·

So die klomp besluit wat belangrik is en wat nie dit maak die plaasmoorde seker n lae profiel saak ,geen wonder die publiek het niks goed oor julle te sê nie.Ek stem ook nou saam.

Pieter du plessis ·

Ek het so pas alle respek vir die bendes in blou verloor hoë profiel ondersoek as dit een van hulle is maar as dit die mense is wat hulle moet dien en beskerm dan kyk ons maar wat ons kan doen as ons kans kry mentaliteit.

Cherokee ·

Die voertuig se noodligte was aan wat dui op vra vir hulp. Toe iemand nader gaan om hulp aan te bied word hy geskiet. Dit is ‘n (ver)vreemde land.

Nettie ·

@Cherokee, jy is reg: ons leef in ‘n VERvreemde land. Waar niks of niemand heilig is of ‘n lewe iets werd is nie. Moet nou nie dat ons ingaan op wie wat wanneer, hoe en waarom gedoen het nie.

Ek stop ook NIE vir enige ongemerkte voertuig nie, al het dit sirenes en blou ligte aan. Ek wys dat ek hom/haar sien en dui aan dat sy/hy my moet volg tot by die naaste polisiestasie. En selfs al is dit ‘n gemerkte voertuig, vra ek vir identifikasie, voor ek my ruit afrol en my rybewys of ID uithaal. En ek stop ALTYD so 5 meter weg van die voertuig wat my afgetrek het, om ruimte toe te laat om vinnig te kan wegtrek, indien nodig.

Die feit dat die voertuig hier betrokke noodligte aangehad het, beteken dat daar buitengewone omstandighede was. Maar dalk het die bestuurder net afgetrek om ‘n selfoonoproep te maak/ontvang en het hy die konstabel aangesien as ‘n moontlike rower. Nietemin, ons moenie “trigger-happy” raak nie; kyk nou waste moeilikheid het hy homself mee opgesaal!

Sarel ·

Was daar nou nie al genoeg negatiewe kommentaar oor die saak nie. Dit bly Kan wat die uitvoering van sy plig vermeer is. Iemand se seun, of man en Vader,hoe weet jy. Hy was dalk nog een van die wynige mense wat hulle werk doen.
Die skuldige homself gaan oorgee. Die moord was gepleeg omdat die ou wou tronk toe gaan.

saartie ·

Dit maak mens net negatief en verloor al jou vertroue in die polisie.

Christo ·

Ons leef in ‘n onsekere land. Jy is nie seker dat dit ‘n regte polisiebeampte is nie. Die bloulig polisievoertuig werklik een is nie. Jy is nie seker of jy saans moet ry nie. Jy is nie seker watter van jou werkers of kolllegas jy kan vertrou en wie nie. Niks is vir seker in SA nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.