Een vas ná moord op Polokwane-eiendomsagent

Joyce Nomvula Shabangu-Monareng (Foto: Verskaf)

ʼn 23-jarige man is Dinsdag in hegtenis geneem vir die moord op ʼn eiendomsagent van Polokwane in Limpopo.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê die man is in Moletjie buite Seshego, digby Polokwane, aangekeer. Hy word positief verbind met die moord op die 50-jarige eiendomsagent, Joyce Nomvula Shabangu-Monareng.

“Shabangu-Monareng het op 14 Oktober by ʼn padaansluiting in die Seshego-nedersetting uit haar motor geklim en inmekaargesak. Sy het verskeie steekwonde gehad,” sê Mojapelo. “ʼn Man geklee in ʼn geel oorpak het daarna uit die motor gespring en van die toneel gevlug.”

Shabangu-Monareng is op die toneel dood verklaar.

Tydens die man se inhegtenisneming is van Shabangu-Monareng se persoonlike items, soos ʼn selfoon, in sy besit gevind.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die polisie se spesiale taakspan geloof vir hul goeie werk om die man vas te trek.

“Hierdie inhegtenisneming moet ʼn boodskap uitstuur dat die polisie alles in hul vermoë sal doen om skuldiges wat aandadig is aan geslagsgeweld te vervolg en vas te trek,” sê Ledwaba.

Die motief agter die moord word nog ondersoek.

Die man sal na verwagting Donderdag in die Seshego-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Hoe is dit geklassifiseer as geslagsgeweld as die motief van die moord nog ondersoek word? Kan iemand dalk verduidelik?

Androclus ·

So hy het haar in die motor gesteek,dit was seker ‘n baie skerp voorwerp om net uit te klim en inmekaar sak.

Hennie J ·

Ek wil nie ongevoelig klink nie, want ek is nie ongevoelig nie. Moord is moord en in hierdie wettelose en rassistiese piesangland is dit aan die orde van die dag. Met Dries se vraag nog onbeantwoord wys die meegaande foto vir my n Brigadier, twee Kolonelle? en twee ander offisiere op die toneel. In vergelyking met die brass wat plaasmoordtonele besoek lyk dit soos n overkill en nou wonder ek waarom? Miskien omdat die slagoffer swart en n vrou is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.