Een vas na moord op Rustenburg-skoolseun

(Foto: Verskaf)

Die polisie in Rustenburg in Noordwes het ’n tiener in hegtenis geneem ná die dood van ʼn 18-jarige seun tydens ’n bakleiery tussen leerders van twee skole. Nog ʼn leerder is tydens die voorval beseer.

Volgens kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, het die polisie Vrydag om 15:45 ʼn klag oor ʼn voorval by die Rustenburg-bushalte ontvang.

“Met hul aankoms op die toneel het die polisie gemeenskapslede om ʼn roerlose liggaam – wat met ’n kombers bedek was – gesien staan,” sê Tselanyane.

“Voorlopige ondersoeke toon dat die slagoffer met ʼn skerp voorwerp in sy keel gesteek is.”

Volgens getuies was die slagoffer ʼn leerder van ʼn hoërskool in Rustenburg en het hy na bewering in ʼn rusie met ʼn leerder van ʼn ander skool betrokke geraak.

“Twee groepe van die onderskeie skole het na bewering by die geveg betrokke geraak wat gelei het tot ʼn bakleiery en die dood van die slagoffer,” sê Tselanyane.

Die seun is op die toneel dood verklaar. Nog ʼn leerder wat ook met ʼn mes gesteek is, is deur paramedici na ʼn hospitaal geneem.

Die 19-jarige verdagte het ná die voorval van die toneel gevlug, maar die polisie het hom later opgespoor en in hegtenis geneem.

Blessing Dintle Tladi het Dinsdag in die Rustenburg-landdroshof op aanklag van moord en poging tot moord verskyn. Die saak teen hom is tot Maandag uitgestel, wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die polisie in Rustenburg geprys vir hul vinnige reaksie wat tot die inhegtenisneming van die verdagte gelei het.

Die polisieondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jacques ·

Ai tog … in ons tyd was daar ook baklei, maar nie vir dood nie, nie met ‘n mes in die sak nie. Jy het weggestap met ‘n stukkende bek, en ‘n blou oog. En dan was die kans dat jy pêlle geraak het met jou teenstander vir altyd. Dit was deel van groot word.

Pierre ·

so onnodig, sterkte aan die familie en vriende, net jammer die mooi land het in die wilde weste verander

Amelia ·

Wat soek n leerling met n mes by skool Sal seker nou weer sielkundige probleem wees nee wat geen hoop meer nie al lankal nie meer hoop nie kan nie dink ek al gehoor voor 1994 dit gebeur nie weet iemand dalk van so tipe geval

piet ·

Daar was beslis baie sulke gevalle voor 1994, jy’t net nie gehoor wat in daai gebiede aangaan nie. In die gebiede waar daai klomp beweeg, kan jy seker nie anders as om altyd ‘n steekding op jou te he nie. anders is jy net ‘n sitting duck vir ander belhamels. Ek dink nie ons besef hoe rof dit gaan in daai plekke nie.

Andries ·

Ai daar gaan ons alweer borgtog,borgtog….
Hou die swernoot agter trallies totdat hy gevonnis word.

Sandra ·

My simpatie aan die kind se ouers vir hulle onnodige verlies van hulle seun.

domheks ·

Simpatie met die ouers van die oorledene. Die ander rampokker moet maar sy straf vat. As jy nie SKOON kan baklei nie is jy ‘n lafaard om ‘n mes te gebruik. Skandelik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.