Een vas ná moord op skoolseun

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn 13-jarige verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn 19-jarige seun wat Woensdagoggend buite ʼn skool in Mondeor in Johannesburg doodgesteek is.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het bevestig die verdagte is Woensdagmiddag by ‘n ander skool in Mondeor in hegtenis geneem. Die polisie is steeds op soek na twee ander leerders wat hulle glo ook by die voorval betrokke was.

Makhubele het gesê die polisie doen ‘n beroep op dié twee leerders om by die polisie aan te meld, aangesien die ondersoekspan nie sal rus totdat hulle ook in hegtenis geneem is nie.

Maroela Media het vroeër berig Kulani Mathebula was vanoggend op pad skool toe en is in ʼn veld naby die skool doodgesteek. Mathebula was in graad 11 en het sowat ʼn kilometer van dié skool gewoon.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het vroeër vandag die skool besoek en gesê beeldmateriaal is aan die polisie oorhandig wat drie leerlinge van ander skole op die toneel plaas waar Mathebula vermoor is.

Die motief vir die moord op Mathebula is nie in dié stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Stel ·

Skole is/was baie leerders se velige hawe, maar deesdae is dit die grootste nagmerrie vir baie ouers. Dit is onaanvaarbaar dat kinders nerens meer veilig is nie.

LD ·

13 jariges ruk hand uit! Eers die saak in Pietersburg waar daar ook ñ 13jarige verdagte by moord betrokke is en nou die een en heel waarskynlik is daar nog sulke gevalle. Genade mense, 13 jariges behoort nog met karretjies te speel! Ons jeug is amper erger as die ouer geslag?

Linda ·

Grootmense stel die voorbeeld. Jare gelede het mens gebid dat jou kind veilig van die weermag af moet kom. Vandag moet jy bid dat hulle veilig uit die skool kom

Genoeg ·

Waarom is skole nie meer veilig vir kinders nie? Ek sal jou sê Stel, omdat kinders deesdae nie meer getugtig mag word nie, hulle wil nie meer aan dissipline onderworpe wees nie, want hulle glo dat hulle alle mag en pag in hul hande het en dat hulle alles mag doen wat hulle wil, want hulle is onaantasbaar. Bring terug die roede in die skole en ouerhuise en dan sal al hierdie ellendes tot ‘n einde kom. Eli is dood omdat hy nie sy kinders volgens Die Woord van God groot gemaak het nie.

Cheryl ·

Baie sterkte aan sy ouers, dis baie hartseer om jou kind so te verloor. Moor al op 13, waar gaan dit eindig?

ZAR ·

‘n 19 jarige in gr11 gemoor deur ‘n 13 jarige. Dis moeilik om sulke slegte goed te glo.

Verwonderd ·

19 in graad 11 en ń 13 jarige kry die oorhand. Ek is stom verbysterd

Gemaskerde Sopbeen ·

Vandat die onderwysers die rottang ontneem is, moet hulle vuurwapens dra…..vir hulle eie veiligheid. As jy kan messteek buite die skool, kan jy dit enige oomblik in ‘n klaskamer ook doen….

Magaretha van heerden ·

Ongeag ras of wat ook al. Hoe kan n kind van 13 so boos wees. Wat leer so n kind by sy huis. Die onderwys is ook nie meer oor opvoeding in die geheel nie. Hoe was ons nie beindruk deur wat die onderwyser ons geleer het tov ons medemens en andere nie.

Juffroutjie ·

Ek stem ongelukig nie saam met “bring terug die roede” uitsprake nie. As ouer onderwyser kan ek met n eerlike gemoed sê dat ek nog nooit (al was dit destyds toelaatbaar) n kind geslaan of “getugtig” het nie. Ek het selfs 12 jr lank by n African skool onderrig en ek het hul respek en waardering daagliks ervaar. MAAR, nou is dit sewe jaar later en dinge het drasties in die land begin verander. Selfs by my volksgenote se kinders ervaar ek erge agteruitgang. Onthou, kinders is n produk van die samelewing waarin hulle woon. Ek wil eerder sê sommige van die ouers verdien dit om “getugtig” te word. Hulle is die naam “ouer” nie werd nie.

Dina ·

Dit is skrikwekkend dat kriminele al jonger word. Dit wys duidelik watter effek die onbeheerbare geweld in ons land op kinders het en hulle is die toekoms van môre. Daar sal dringende ingryping en rekonsiliasie moet plaasvind.

willem Botha ·

Dit gaan erger word,sa is op n afdraande pad en met die afwesigheid van regte polisie en regering se onvermoë om misdaad vas te vat,heers anargie.

Anoniem ·

Ek le al hierdie geweld wat deur kinders gepleeg word, voor die deur van sekere politieke partye want dit is hulle wat geweld aanhits en hierdie is die voorbeeld wat kinders sien en volg.

Wa ·

Die kinders tree so op want die grootmense tree so op. Dis die norm in hierdie land en aan die orde van elke dag in Suid Afrika. Dis glad nie moeilik om hierdie te verduidelik nie.

Theresa ·

Kinders ruk hand uit. Dis omdat hulle nie meer gefoeter mag word nie! Onopgevoed, ongeskik en geen respek vir enige iemand nie.

Marissa ·

In die vorige berigte was daar vermeld dat die seun wat vermoor is 16 jaar oud was?

Tokkie. ·

Khulani was ‘n sagte, vredeliewende knaap en geliefd sonder mede leerlinge . Daar was drie aanvallers en hy is vir sy selfoon vermoor. Die
skoolhoof was by hom toe hy gesterf het.

Hendrik van George ·

Bly daar was darem iemand by hom toe hy gesterf het….

GM ·

Juffroutjie, ja, dis hartseer. Destyds het die meeste kinders respek getoon teenoor onderwysers. Jy het geweet dat jy ‘n goeie loesing by die huis sal kry as jy aanjaag.

Dalk kyk ek nou met ander oë na dinge, maar ek dink mense het ook meer tyd vir mekaar gehad. Kyk hoe sit mamma en pappa op hul selfone in restaurante – by sommige tafels word daar nie ‘n woord gepraat nie. Die kinders voel afgeskeep en begin op verkeerde maniere uiting gee aan hul frustrasies. Voeg dan die ‘geen tugtiging’ by…

En die kinders word van vroeë ouderdomme aan wrede dinge blootgestel – kyk na van die rekenaarspeletjies/xbox/playstation ens. Van daardie ‘scenes’ lyk so eg!
Ek wonder partykeer of van die kinders wat so moor dink dat die persoon net weer sal ‘respawn’ soos in die speletjies, en of dit maar net gaan oor ‘dis hoe probleme in flieks opgelos word -daardie helde word gerespekteer, almal is bang vir hulle en hulle maak geld’?

Losie ·

Die probleem is die wetteloosheid in die land. Almal kan doen wat hulle wil sonder enige gevolge. Dit is waar die jeug dit sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.