Een vas ná Niekerkshoop-plaasaanval

(Foto: Anja van der Merwe)

Een verdagte is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die aanval op ʼn 60-jarige boer op sy plaas digby Niekerkshoop in die Noord-Kaap.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het gesê die man sal na verwagting Donderdag in die Niekerkshoop-landdroshof verskyn.

Hy was een van ses gewapende mans wat presies ’n week gelede omstreeks 10:00 die boer op sy plaas oorrompel het en sy buik met ’n warm strykyster gebrand het.

Maroela Media het vroeër berig die verdagtes het met ʼn enkelkajuit Toyota-bakkie op die vlug geslaan. Die polisie het die bakke later sowat 15 km buite Griekwastad, in die rigting van Groblershoop, opgespoor.

Die boer is ná die aanval hospitaal toe geneem vir behandeling.

Die ander vyf verdagtes is steeds op vrye voet.

Die polisie het ʼn beroep op enigiemand met verdere inligting gedoen om kapt. Paul Goliath, stasiebevelvoerder van Niekerkshoop by 082 448 6910 te bel, of die ondersoekbeampte, Godffrey Kubashe, by 082 448 6572.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.