Een vas ná rowers man skiet

Sakkie Bloem en sy verloofde, Natasja Martens. Foto: Facebook

Die man wat Dinsdag tydens ʼn huisbraak in Modimolle (Nylstroom) in Limpopo geskiet is, sterk tans in ʼn hospitaal in Pretoria aan.

Sakkie Bloem, ʼn professionele jagter in sy dertigs, is Dinsdagmiddag by sy huis in die dorp deur drie gewapende mans oorval. Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans het die huis binnegekom en ʼn struweling het tussen hulle en Bloem ontstaan.

Volgens Mojapelo is Bloem deur sy skouer geskiet voordat die rowers met sy wit Toyota-enkelkajuitbakkie op die vlug geslaan het. Sy .308-geweer was in die voertuig.

Bloem kon daarin slaag om deur die bure hulp te ontbied. Lede van plaaslike veiligheidsgroepe en die polisie was binne oomblikke op die toneel en het die voertuig begin soek. Die voertuig is kort daarna verlate op die R101 in Pienaarsrivier gevind.

“Daar word vermoed dat die verdagtes te voet die veld in gevlug het. ʼn 49-jarige verdagte is vasgetrek en deur die polisie ingeneem vir ondervraging. Hy is later positief met die huisroof verbind,” het Mojapelo gesê.

Hy het gesê die ander twee verdagtes is steeds soek. Die gesteelde vuurwapen is ook nog nie opgespoor nie.

Bloem is deur ʼn plaaslike dokter in Modimolle behandel voordat hy na ʼn hospitaal in Pretoria geneem is. Natasja Martens, Bloem se verloofde, het Dinsdagaand op haar Facebook-profiel die gemeenskap bedank vir die oproepe en boodskappe wat hulle ontvang het. “Sakkie is opgeneem in die hospitaal, maar hy gaan oukei wees. [Hy het] net baie seer,” het sy geskryf. Martens kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Mojapelo het namens die polisie die gemeenskap bedank vir hul samewerking om Bloem se voertuig op te spoor en die verdagte vas te trek. Hy het gesê die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Wurg die waarheid uit die een wat gevang is. Hy moet weet waar die ander is. Laat hom sing soos n kanarie.

Vra Net ·

Is professioneel nog van toepassing as jy n vuurwapen in n voertuig laat?

anton ·

My innige simpatie wat met hom gebeur het maar hoe los jy jou vuurwapen in die voertuig?
Hy gaan seker aangekla word daaroor en moontelik sy wapens verloor.
Hoe dink mense?

tamboti ·

DIE WET BEPAAL OOK; jy mag nie betree nie, jy mag nie inbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie roof nie, jy mag nie aanrand nie, jy mag nie vuurwapen rig op onskuldige persoon nie, jy mag nie onskuldige persoon skiet nie, jy mag ook nie onwettige wapen of ammunisie besit nie.
Buitendien, jagters en boere maak gebruik van toestelle waarmee hul wapens in ‘n voertuig vassluit (‘n vollengte kluis is nie eintlik prakties in voertuig nie) wat basies die berg daarvan veilig en wettig maak in voertuig. So as hulle sy bakkie met wapen daarin steel, wie se dit was onwettig “vergeet” in voertuig?

Oosie ·

Voorbeeld: Prof. Jagter het pas vertrek om te gaan jag. Vuurwapen in sy voorgeskrewe dra-sak. Kom agter iets het vergete gebly, draai om en ry gou terug. Moet hy nou by die huis sy vuurwapen uithaal, in die kluis gaan toesluit, sy tandeborsel of watookal neem, die kluis weer oopsluit, sy geweer uithaal en weer bakkie toe stap om te ry? Wat as hulle hom in die stapproses verras het? (In of uit). Voormelde is belaglik. Niemand sal dink om so simpel op te tree nie. Jy stop, hardloop gou in, kry wat jy moet, en ry weer. As jy jou vuurwapen dag-uit en dag-in in jou voertuig los is dit logies ‘n ander saak…

Poefplaf ·

Die bepaling is dat die vuurwapen onder jou persoonlike toesig moet wees, of in ‘n kluis toegsluit. Die vraag is: Hoe ver was hy van sy bakkie af…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.