Een vas ná vrou ‘moedswillig’ geskiet is

Argieffoto

ʼn Man is in hegtenis geneem nadat ʼn vroulike kontrakteurwerker van die program vir uitgebreide openbare werke (UOWP), ʼn regeringsinisiatief, Donderdag in Northcliff in Johannesburg geskiet is.

Nonhlanhla Sifumba, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling, het dié nuus bevestig.

Volgens Sifumba was die vrou deel van ʼn groep van meer as 40 werkers wat aan ʼn projek gewerk het toe die voorval gebeur het.

Hy sê die Suid-Afrikaanse polisiediens, die polisie se honde-eenheid en die Johannesburgse metropolisie het vinnig opgetree nadat ʼn ooggetuie die verdagte in dieselfde omgewing opgemerk het. Hy is kort daarna in hegtenis geneem.

Sifumba kon nie bevestig wat die motief agter die skietery was of watter gebeure die voorval voorafgegaan het nie.

Hy het dié voorval, wat hy as moedswillig bestempel het, ten sterkste veroordeel. “Ons is woedend dat een van ons vroulike UOWP-kontrakteurwerkers aangeval is terwyl broodnodige dienste in die gemeenskap gelewer is,” het hy gesê. “Dit is ʼn sinnelose en lafhartige daad wat gepleeg is deur mense wat nie ons stad skoon en vooruitstrewend wil sien nie. Dit is jammer dat misdadigers hulself skuldig maak aan sulke dade soos om werkers aan te val wat ʼn diens verrig.”

Sifumba sê die polisie sal verseker dat die skuldige aan die pen ry. “Ons kan nie toelaat dat hardwerkende inwoners van die stad sommer so geskiet word nie.”

ʼn Ander vroulike UOWP-werknemer is op 22 Februarie ook in ʼn soortgelyke voorval geskiet.

UOWP is ʼn regeringsinisiatief wat werksgeleenthede skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Waar ·

Net so sinneloos en lafhartig soos die moorde op KINDERS en op plaasboer, hulle vrouens en hulle kinders ..en kleinkinders … WAAR IS JULLE SIMPATIE??

snoefie ·

waar is die skok, woede en verontwaardiging waar dit plaasaanvalle, brandstigting, grondgryping, swart haatspraak, verkragting en verwerping van pasgebore babatjie (onder andere) aangaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.