Een verdagte dood, agt vas ná skietery in Kriel

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Kriel in Mpumalanga het Sondag in ʼn klein oorlogsone verander toe ʼn span van die Valke en ʼn bende rowers op mekaar losgebrand het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê beamptes van die Valke se taktiese operasiebestuursafdeling (Toms) het inligting opgevolg oor ʼn BMW wat gekaap is. “Die opsporingstelsel se sein het die beamptes na ʼn huis in Kriel gelei.”

Volgens Mulaudzi het ʼn groep verdagtes op die beamptes losgebrand met hul aankoms by die huis en is ʼn beampte van die Valke in die skouer geskiet. Hy is met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer vir verdere behandeling. Volgens berigte is ʼn tweede beampte ook gewond.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

“Die taakmag is ingeroep en agt verdagtes is in hegtenis geneem terwyl ʼn negende verdagte noodlottig gewond is.” Volgens Mulaudzi het beamptes op twee R4-aanvalsgewere, ʼn R5, ʼn AK47 en ʼn pistool beslag gelê. Daar is ook op drie BMW’s, een Mazda Drifter, ʼn Corsa-bakkie en ʼn Chrysler Voyager beslag gelê. Daar is ook plofstof in die huis gevind. Die verdagtes word glo aan verskeie misdade waaronder transitorooftogte verbind.

Die verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Kriel-landdroshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

jaco ·

kan dit nie eendag elke week van die jaar verkiesing wees nie? dan sal die polisie altyd hulle werk reg doen…

Delta Mike ·

Baie goeie werk aan die lede van die spesiale eenhede wat by die operasie betrokke was. Mag julle sukses en harde werk vrugte afwerp met die nodige harde vonisse van die verdagtes en die hof en staats aanklaer saam wek in plaas van teen jul werk.

Shaun ·

Ten minste drie van die vyf wapens kom van die polisie en/of die weermag af . ( R4’s en R 5 )

tamboti ·

Ja en so bly die groot skurke ongehinderd tussen die arme wetsgehoorsame slagoffers, baie dankbaar vir hierdie arrestasies, hoop hulle word darem suksesvol verhoor en nie op borg vrygelaat nie.
Hier is ‘n idee: is daar dalk ‘n joernalis wat sy/haar sout werd is en gaan navorsing doen en die saak tot op einde volg?
Sou graag wou weet wie is elke verdagte, by hoeveel misdade was hul betrokke saam en individueel, en hoeveel keer is elke verdagte al in hegtenis geneem, en ja selfs hoeveel keer gevonnis. Ons moet ons vyand ken om hom te oorwin.

JOHAN ·

Goeie werk – vir hoe lank – nou kry hulle borgtog en verdwyn en gaan aan met hulle rooftogte elders

Hennie ·

Tambotie die vrae wat jy vra is krities. Die antwoorde sal ons nooit hoor nie want dit gaan sekere mense in die verleentheid laat. Wat ek nie kan verstaan nie, is hoekom hou die wonderlike DA en VF+ nie hulle eie statistiek en volg hierdie sake op nie, dit gaan hulle help om die Anc se ware kleure te bewys. Ons lees baie gereeld dat groepe mense misdade pleeg met aanvalsgewere, niemand vra waar kom dit vandaan nie en vir hoeveel misdade dieselfde mense verantwoordelik is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.