Een verdagte doodgeskiet, drie vas oor sakeroof

Foto: Google Earth

Foto: Google Earth

Een verdagte is doodgeskiet en drie in hegtenis geneem tydens ‘n sakeroof Maandag by ʼn winkel in Tongaat, KwaZulu-Natal.

“Polisiebeamptes het omstreeks 10:45 reageer op ʼn sakeroof by Marshalls World of Sport in Tongaat,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, gesê. “Die deur na die winkel was gesluit en die verdagtes, slagoffers en klante was binne die winkel.”

Zwane sê die klante het op die vloer gelê en vier verdagtes, waarvan twee gewapen was, het by die klante gestaan. Hulle het op die polisiebeamptes losgebrand en een van die polisiebeamptes, in sy 20’s, is getref. “Die polisie het teruggeskiet en een van die verdagtes is noodlottig gewond. Drie verdagtes is in hegtenis geneem,” het hy gesê.

Die polisie het beslag gelê op twee pistole, die kontant en selfone wat van die klante en Marshalls gesteel is. Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in enige ander misdade gebruik is.

“Die verdagtes, tussen 23 en 31 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van sakeroof, poging tot moord, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en aanranding,” het Zwane bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.