Een verkragting elke tien minute aangemeld

Argieffoto (Foto: SAPS)

Die drukgroep Action Society het die polisiebestuur daarvan beskuldig dat hy gekaap is deur misdadigers wat oorlog teen gewone burgers voer.

“Suid-Afrika is ʼn bloedbad. Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

“Vroue en kinders verkeer elke dag in lewensgevaar. Hierdie is ʼn oorlog.”

Moorde op vroue het in vergelyking met die vorige jaar se syfers met 22,1% tot 1 101 moorde toegeneem. Dit beteken 12 vroue word elke dag in Suid-Afrika vermoor. Vier kinders word volgens die jongste misdaadsyfers daagliks vermoor.

“Ons het 138 verkragtings elke dag. Dit is een verkragting elke tien minute wat aangemeld word,” sê Cameron.

Hy sê die polisie het geen voorkomingsmaatreëls gereed nie en hoegenaamd geen misdaadintelligensie nie. Boonop is die polisie se speurders oorwerk.

“Ons is in hierdie oorlog weens kaderontplooiing en politieke inmenging in die strafregstelsel. Die ANC wil nie hê die stelsel moet behoorlik werk nie, want dan sal hy uitgevang word as die grootste misdaadsindikaat wat die land die afgelope 30 jaar gesien het,” sê Cameron.

Bobby Stevenson, DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer, beskryf die provinsie as ʼn “oorlogsone” na afloop van die bekendmaking van die jongste misdaadstatisieke.

“Die statistieke toon dat ʼn vloedgolf van gewelddadige misdaad steeds oor die provinsie spoel, wat ʼn klimaat van vrees en hartseer aanvuur. Agter hierdie bloedige statistieke skuil gebroke gesinne, weeskinders, getraumatiseerde vroue en honger kinders weens die verlies van broodwinners,” sê Stevenson.

Die Oos-Kaap het weer die hoogste per capita-moordsyfer in die land en het van 19,7 verlede kwartaal tot 22,5 per 100 000 gestyg.

Sewe Oos-Kaapse polisiekantore is nou in die top-30 vir moordaanklagte, naamlik New Brighton, Mthatha, Ngcobo, Kwazakhele, Bityi, Dutywa en Bethelsdorp.

“Die massiewe styging in massamoorde is ʼn gruwelverhaal, met 117 mense wat in net 48 voorvalle in die provinsie vermoor is. Hierdie syfers sal na verwagting in die volgende kwartaal selfs hoër wees, aangesien die vlaag massamoorde wat onlangs in die media aangeteken is, nie hierby ingesluit is nie.”

Gillion Bosman, die DA se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê die mees onlangse misdaadstatistieke wys dat die behoefte aan ʼn nuwe model van polisiëring dringend noodsaaklik is.

“Nou, meer as ooit, behoort bevoegde subnasionale regerings die owerhede te wees wat verantwoordelik is om toesig te hou sodat ons gemeenskappe veilig gehou word deur ʼn goed bestuurde polisiediens en nie ʼn disfunksionele een nie,” sê Bosman.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het bevestig dat hy nie die enigste hoof van ʼn provinsiale regering is wat streef na groter magte oor polisiëring nie. Ander sien ook nou hoe polisiebeamptes ʼn tekort aan hulpbronne het en deur die nasionale bestuur ondermyn word.

“As selfs ANC-premiers nou kan besef dat die status quo nóg effektief nóg volhoubaar is, wys dit werklik hoe losstaande nasionale polisiëring onder die bewind van minister Bheki Cele geword het,” sê hy.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.