Covid-19, korrupsie, stukkende toerusting en stelsels by lisensiekantore wat nie werk nie. Dís glo die rede waarom daar so ʼn groot agterstand met die hernuwing van rybewyse is.
Die parlement se verkose komitee vir vervoer, staatsdiens en administrasie en openbare werke en infrastruktuur, het Woensdag van die departement van vervoer gehoor die algehele agterstand van bestuurderslisensies wat op 31 Maart verval, staan landwyd op 2,1 miljoen.
Landwyd moet meer as 1,2 miljoen lisensies uit ʼn geheel van 2,8 miljoen rybewyse wat verval het, boonop nog hernieu word.
Die parlement het ʼn beroep op die departement gedoen om alternatiewe maniere te vind om die agterstande in te haal, onder meer deur werksure te verleng.
Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het vroeër ʼn grasietydperk aangekondig vir die hernuwing van rybewyse wat tussen 26 Maart 2020 en 31 Augustus verlede jaar verval het. Die verlenging van ʼn jaar was vir alle tydelike lisensies, professionele bestuurspermitte en leerlinglisensies.
Die spertyd vir die hernuwing daarvan is reeds vantevore verleng, maar Mbalula het vroeër gewaarsku dit gaan nie weer gebeur nie.
Daar is nou minder as ʼn week oor om rybewyse wat tydens die grasietydperk verval het, te laat hernieu.
Vir talle motoriste wat wel al hul rybewyse probeer hernieu het, was dit die laaste paar maande ʼn opdraande stryd. Daar was aanvanklik tallose klagtes oor ʼn gebrek aan beskikbare tydgleuwe, terwyl die masjien wat die rybewyse druk, boonop in November verlede jaar opgepak het ná ʼn elektriese probleem wat deur ʼn oorstroming in ʼn aangrensende gebou veroorsaak is.
Die stukkende onderdeel is herstel en produksie is op 20 Januarie vanjaar hervat. In daardie stadium was daar ʼn agterstand van 639 000 rybewyskaarte as gevolg van die stukkende apparaat.
Teen 17 Maart is 527 000 kaarte reeds geproduseer, het die departement gesê. Die oorblywende agterstand van 112 000 kaarte sal na verwagting teen die middel van April uitgewis wees.
Algehele agterstand:
Provinsie | Verval | Nie hernieu | Hernieu | % hernieu |
Gauteng | 989 058 | 503 165 | 485 893 | 49,1% |
KwaZulu-Natal | 448 836 | 242 720 | 206 116 | 45,9% |
Wes-Kaap | 403 507 | 191 701 | 211 806 | 52,5% |
Limpopo | 234 269 | 135 852 | 98 417 | 42% |
Mpumalanga | 221 682 | 123 484 | 98 198 | 44,3% |
Oos-Kaap | 193 961 | 107 699 | 86 262 | 44,5% |
Vrystaat | 134 917 | 71 690 | 63 227 | 46,9% |
Noordwes | 134 502 | 69 157 | 65 345 | 48,6% |
Noord-Kaap | 52 284 | 26 708 | 25 576 | 48,9% |
Totaal | 2 813 016 | 1 472 176 | 1 340 840 | 47,7% |
Sandiso Thutshini, hoof van die Driving License Card Account (DLCA), sê die departement se planne om die agterstande in te haal, sluit in produksiespanne wat dag en nag in skofte werk, terwyl bykomende hulpbronne toegeken sal word indien daar enige toename in bestellings van rybewyse is.
Die eerste bestellings word in hierdie stadium eerste gedruk – dus ʼn stelsel van diegene wat eerste aansoek gedoen het, word eerste gehelp.
Motoriste wie se lisensies binne die grasietydperk val (dus van 26 Maart 2020 tot 31 Augustus 2021) en wat dit vóór 31 Maart hernieu, se rybewyse is vir nog drie maande geldig.
Motoriste wie se rybewyse binne die grasietydperk val, maar wat hul rybewyse ná 31 Maart hernieu, sal vir tydelike rybewyse moet aansoek doen.
Aansoekers wie se rybewyse voor 26 Maart 2020 of ná 31 Augustus 2021 verval, sal ook vir tydelike rybewyse moet aansoek doen.
“Daar word verwag dat dié aansoekers op die nippertjie gaan aanmeld om hul rybewyse te hernieu. Om aan die verwagte aanvraag te voldoen, sal die DLCA voortgaan om skofte of oortyd te werk tot die agterstand ingehaal is,” sê Thutshini.
Afhangend van die tempo waarteen motoriste hul rybewyse hernieu, sal die agterstand na verwagting binne ses maande ingehaal kan word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Ek wonder hoe gaan Fikie hierdie agterstand in haal binne 1 week??? Duidelik gaan hulle 24/7 moet werk hahahaha wil dit graag beleef.
Baie sterkte, dit is ‘n nagmerrie, pak maar ‘n broodjie en vat ‘n kampstoel, ek wonder net of die stelsel gaan hou om afsprake vir hernuwings te maak , ek het ook nie ‘n tydelike lisensie uitgeneem nie , die kwitansie is voldoende , hul kan my nie verantwoordelik hou vir hul swak beplanning nie.
Sal maar ‘n tydelike bestuurslisensie uitneem wanneer daar eendag ‘n gaping/opening is om dit te doen.
Gaan beslis nie my lewe langer in gevaar stel om soggens vroeg in die ry te staan en boonop dan nog my salaris vir die dag ook te verloor en dan nogsteeds weg gewys te word omdat daar net ‘n seker hoeveelheid gehep word. Hierdie belaglikheid hou na al vir meer as ‘n jaar aan en raak al hoe gevaarliker om soggens dou voor dag te probeer om plek in ‘n ry te kry.
Ek is Dankbaar, dat ek my Bestuurslisensie in November 2020 kon hernie.
Sal nou eers in 2025 moet hernie.
Sterkte aan die wat nog moet hernie.
Alles waaraan die klomp paluka agter-geblewenes vat verander in ‘n gemors. Ek wonder of hulle toiletpapier reg kan gebruik…