Eenheid gaan kindermishandelingsaak fyn dophou

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. (Foto: Reint Dykema/AfriForum)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê hy gaan ’n saak van beweerde kindermishandeling in die Brits-landdroshof in Noordwes fyn dophou nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik aangedui het dat hy nie met vervolging in die saak voortgaan nie.

Die eenheid het Maandag ook die klaer in die saak by die hof ondersteun.

In hierdie spesifieke saak staan drie beskuldigdes tereg op verskeie aanklagte van die verkragting van ’n kind. Die verkragtings het na bewering in 2018 plaasgevind terwyl die slagoffer maar ses jaar oud was. Die beskuldigdes is twee mans, asook die kind se ma.

Volgens die privaatvervolgingseenheid kan daar uit getuienis in die saak afgelei word dat die sesjarige meisie se ouma en ma haar as ’n sogenaamde “handelsproduk” gebruik het deur toe te laat dat sy teen betaling verkrag word.

Die meisie het vroeër beskryf hoe oortreders glo tydens die verkragtings en seksuele molestering ’n skottelgoedsponsie in haar mond gedruk het om te keer dat sy enige geraas maak.

Die drie beskuldigdes is aangekla nadat AfriForum se eenheid in Junie vanjaar by die saak betrokke geraak het. Die betrokkenheid volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in ’n reeks sake om “onverklaarbare redes” besluit het om nie met vervolging voort te gaan nie.

Twee ander verdagtes, onder wie die ouma wat deur die meisie geïdentifiseer is, is nog nie in hegtenis geneem nie.

Die saak is Maandag tot 28 Oktober uitgestel omdat die aanklaer volgens haar nog nie genoeg tyd gehad het om met al die getuies te beraadslaag nie.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, bewys die regering bloot lippediens aan slagoffers van geweld teen vroue – en veral teen kinders.

“Indien die regering en die NVG werklik ernstig was oor die bekamping van geweld teen vroue en kinders, sou ons nie gevalle soos vandag gesien het nie. Verskeie hooggeplaaste politici maak jaar ná jaar toesprake oor die staat se verbintenis tot die geveg teen geslagsgebaseerde geweld en geweld teen kinders, tog het die NVG besluit om ’n nolle prosequi-sertifikaat [’n besluit om nie te vervolg nie] in hierdie saak uit te reik.

“Die oomblik toe ons aandui dat ons die beskuldigdes privaat sal vervolg, het die aanklaer egter besluit om vervolging in te stel. Dit is nie net geregtigheid wat onder hierdie soort besluite ly nie, maar veral die jong slagoffers van gewetenlose misdadigers wat dink dat hulle die gereg kan ontduik,” sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Hulke het heel moontlik nog Kinder Toelae ook gekry

Onnie

Sies man, watse siek land en siek mense gee nie eers meer om dat ‘n sesjarige deur haar ma en ouma uitverhuur word as sekslaaf nie. Skokkend!

Misky

Afskuwelik, nee heng, wat word van die mensdom!!!!

Persheks Adri

Hoe doen jy dit aan jou kind vir geld? Siek man siek!!!

Hybie

Ek wonder hoe kan ñ mens met die eenheid in verbinding tree