Eenheid gryp oudraadgewer se R3 miljoen-huis

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die R3 miljoen-huis van ʼn voormalige raadgewer in die Nelson Mandela-metroraad sal binnekort verkoop en die geld aan die nasionale tesourie oorbetaal word.

Dít volg nadat die hooggeregshof in Gqeberha (Port Elizabeth) ʼn bewaringsbevel aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid (AFU) toegestaan het.

Die huis behoort aan Zandisile Qupe, wat tans saam met 14 ander beskuldigdes op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery van meer as R56 miljoen teregstaan. Die beweerde misdrywe hou met munisipale projekte verband.

Qupe is in November verlede jaar saam met verskeie ander beskuldigdes in hegtenis geneem toe hy die raadgewer vir die huidige Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, was.

Die metroraad is een van dié wat in 2010 gekies is vir die inwerkingstelling van ʼn snelbusdiens en ʼn geïntegreerde openbare vervoerstelsel wat deur die nasionale tesourie gefinansier sou word.

In dieselfde jaar is ʼn stelsel van stapel gestuur om kontrakbestuur en administrasie (ICMAS) te doen.

Die diensverskaffers vir die twee projekte is glo op onreëlmatige wyse aangewys en hul koste na bewering beduidend opgeblaas.

Die Gqeberha-huis wat in 2015 kontant deur Qupe gekoop is, is glo met “vuil geld” wat deur sy beweerde misdrywe bekom is, betaal.

Daar word beweer dat Qupe tussen 27 September 2013 en 31 Januarie 2015 – terwyl hy die ANC se sekretaris-generaal in dié metro was – onwettige betalings van Fareed Fakir, ʼn sakeman, in sy private bankrekening ontvang het. Dié geld het net meer as R3 miljoen beloop.

Die bedrag is na bewering van Fakir se onderneming, Fareed Fakir of Heerkos Projects (BK), oorgeplaas.

Die bewaringsbevel is suksesvol verkry deur die gesamentlike pogings van AFU, die Valke en die polisie se forensiese ondersoekers.

Qupe en sy medebeskuldigdes sal op 28 Januarie 2022 weer in die handelsmisdaadhof in Gqeberha verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris dupreez ·

En as ons weer hoor is hy by n buitelandse konsulaat vir n paar jaar voor hy terugkom vir n hoër pos.

JohanR ·

Die wiel met ANCs draai stadig. Jacob Zuma se wiel het amper tot stilstand gekom!

Willem ·

Groot wiele is swaar en swaar wiele draai gewoonlik stadig maar hulle maal alles waaroor hulle loop fyn.

Swartskaap ·

Hier naby my in Tshwane het n werknemer van die elektrisiteits afdeling vir hom n mansion gebou, met groot blink karre vir hom en sy vrou. Dit is al aangemeld by n sekere nuusdiens maar na 2 jaar het niks gebeur nie.

Wat op dees Aarde ·

Bring dit onder die aandag van Daily Maverick. Hulle ondersoekende joernaliste oa. Pieter-Louis Myburgh en Pauli van Wyk is uitstekend en het al menige groot name laat les opsê.

Di ·

Hierdie diewe moet een ding besef, al loop ‘n leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel. Mens se sondes haal jou een of ander tyd in!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.